
Die top vier van die Koshuisrugby se Superliga gaan mekaar komende Vrydag in die halfeindstryd aanvat.
Die spanne wat vir dié eksamen gekwalifieer het, is Caput, Overs, Patria en Veritas.
Caput speel teen Veritas en Patria gaan teen Overs kragte meet.
“Caput het die toetse in die poelrondtes geslaag. Nou kom die eksamen,” het Henry Stewart, hoofafrigter van Caput gesê.
Dit nadat Caput die poelrondtes onoorwonne klaar gemaak het.
“Ons is definitief die buiteperd vir die wedstryd maar ons het ‘n paar planne. Ons het met ouens gesels wat al teen Caput gespeel het, video van hulle wedstryd teen die o/19s gekyk, so ons gaan kom met alles. Alhoewel ons die buiteperd is, is enige iets in koshuisrugby moontlik,” het Stefan van Vuuren, hoofafrigter van Veritas gesê.
Patria en Overs het mekaar, in die laaste poelrondte wedstryd ontmoet waarna hulle mekaar weer Vrydag (2 September) gaan aanvat. Patria gaan met selfvertroue in die wedstryd in nadat hulle, dié eerste kragmeting gewen het.
“Ons gaan ons spel moet lig na die vorige wedstryd. Ons is eintlik op ‘n gevaarlike plek nou na die vorige wen. Gerald en Funa is ou honde en hulle gaan 100% met ‘n plan kom,” het Garann Kriek, hoofafrigter van Patria gesê.
Volgens Gerald Sutton, afrigter by Overs sien hulle uit na die wedstryd.
“Dit is ‘n kans vir ons om dinge reg te stel en in plek te kry. ‘n Goeie begin gaan baie belangrik wees,” het Sutton gesê.
Die tweedespanne se halfeindstryde gaan deur dieselfde koshuise beslis word. Caput 2 speel teen Overs 2 en Patria 2 gaan vir Veritas 2 aanvat.
In die Premierliga, waar daar net ‘n eindstryd gespeel word, gaan Excelsior en Hombre volgende Woensdag (7 September) dinge uitspook.
Afhangend wie in die Premierliga wen volgende week kan ‘n uitspeelwedstryd met Villagers wat onder aan die punteleer van die Superliga is op die kaarte wees.



