Volkies Fietsry gaan, as deel van Hoër Volkskool se Eeufeesvieringe, vanaf 30 September tot 9 Oktober ‘n toer vanaf Potchefstroom na Kaapstad onderneem.
Tien fietsryers gaan elkeen ‘n minimum van ‘n 100 km aflê. Die speke gaan behoorlik sing van dag een af. Op die roete is daar verskillende besienswaardighede en vermaak wat dit ‘n onvergeetlike ervaring gaan maak. In Wellington en omgewing gaan Volkies se fietsryers oor drie dae tegniese afrigting by professionele fietsryers ontvang.
Hierdie toer is ‘n eerste vir Volkies Fietsry. Die skool voorsien dat hulle in die toekoms ook ander toere na verskillende dele van Suid-Afrika sal wil onderneem. So hoop Volkies om nog meer fietsryers te betrek by Volkies Fietsry en ook geleenthede te benut om ons mooi land te verken.
Vir enige projek om ‘n sukses te wees is daar altyd fondse nodig. RocoMamas Potchefstroom se bydrae tot die toer is vir die skool ‘n bron van groot dankbaarheid. RocoMamas het vir ‘n tydperk ‘n deel van hul wins aan Volkies Fietsry bewillig. Hulle het ook vir die fietsryers die geleentheid gegee om prakties te ervaar hoe ‘n kosbesigheid bedryf word deur hul toe te laat om saam met die RocoMamas span te werk. Hulle het baie geleer uit dit, individueel gegroei en lekker spangees gebou.
Volkies Fietsry wil die gemeenskap bedank vir hulle positiewe bydrae sover om die toer ‘n realiteit te maak. As daar nog instansies is wat ‘n bydrae wil maak om te verseker dat die toer ‘n sukses sal wees, sal dit opreg waardeer word.
Vir verder navrae kontak gerus vir Jaco by 082 771 7541 of Liana by 082 781 6185.