
Die junior rugbyspanne van Potch Dorp en Klerksdorp rugbyklubs gaan mekaar komende Saterdag, 8 Oktober op die groot verhoog aanvat.
Klerksdorp en Potch Dorp het albei drie junior spanne wat mekaar in ‘n historiese stryd op Olënpark die stryd gaan aansê.
Dit is die eerste keer wat hierdie twee klubs, die oudstes in die provinsie, se junior spanne teen mekaar speel. Albei klubs is die afgelope drie weke hard besig om vir die groot wedstryde voor te berei. Die wedstryde gaan as voorwedstryde dien vir die Luiperds se o.21 en die Luiperds Plattelandspan wat onderskeidelik teen die Haaie se o.21 en Bulle se Plattelandspan speel. Volgens Eugene Fourie, hoofuitvoerende beampte van die Luiperds, is die unie opgewonde om te sien of junior klubrugby in die provinsie groei. Fourie sê dat dit ‘n goeie platform bied vir spelers wat nie vir onder meer die Craven- en Grant Khomo-weke gekies is, om op ‘n bietjie hoër vlak te speel.
“Dit bied ook die geleentheid vir spelers wat kort seisoene speel of dalk nie rugby by hulle skool het nie, om aan te hou speel. Met enige iets word jy net beter as jy dit baie gereeld doen,” het Fourie gesê.
Volgens hom is die doelwit om teen volgende jaar ‘n Luiperdspan te kies wat aan ‘n interprovinsiale toernooi gaan deelneem. Die IPT toernooi is spesifiek vir spelers wat nie deur die jaar by ander provinsiale strukture opgeneem is nie. Hierdie toernooi vind tans in Heidelberg tussen die Leeus, Bulle, Haaie, Pumas en Valke plaas. “Ons mik daarna om volgende jaar junior Luiperd klubspanne te stuur wat daar kan gaan deelneem,” het Fanie de Kock, voorsitter van Klerksdorp Rugbyklub gesê.
“Ons het ‘n ongekende en bo verwagting goeie reaksie van ouers en spelers gekry. Ek dink dit is beslis iets wat hier is om te bly,” verduidelik De Kock. “Enige span kan Saterdag wen. Dit gaan vir my meer om ‘n seun nog ‘n kans te gee om op ‘n ander platform raakgesien te word.” Potch het ‘n enorme talent-poel en dit moet ten volle ontgin word,” het Bolla van der Merwe, voorsitter van Potch Dorp Rugbyklub oor die naweek se wedstryde gesê.



