Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan het hulle plek in die Noordvaal half-eindstryd met ‘n naelbyt 4-lopie oorwinning teen Hoërskool Hans Moore bespreek.
In die eerste span se wedstryd wat op Saterdag, 29 Oktober, plaasgevind het, het Gimmies se Marnu Cronjé sy span uit die moeilikheid gehaal en in ‘n wenposisie gestuur met ‘n kranige 59* (64).
Met die telling op 109/6 het Gimmies gestruikel, maar Cronjé en Ruan Lotz 24 (42) het gesorg dat Gimmies ‘n totaal van 230 almal uit in 47.5 boulbeurte aanteken.
Lotz (3/39) en Martin Bullock (2/38) het met hulle draaiballe vir Gimmies na ‘n oorwinning geboul. Hans Moore het amper die wedstryd beklink toe hulle terugveg van 144/8 tot by 226/9.

Hulle het 5 lopies van 2 balle benodig, maar Zavier van Rensburg het met sy linkerarm swaaiballe die laaste paaltjie geneem om sy span te laat jubel en juig.
Gimmies se o.15A span het ook die half-eindstryd behaal met ‘n 16-lopie oorwinning teen Hoërskool Marais Viljoen.

Hier het Nico Jordaan 34 (62) en Henre Cronje 31 (26) goed kopgehou in hulle telling van 180/8. De Wet Grobler se 4/9 is genoeg om Marais Viljoen te stuit op 164 almal uit.
Die komende naweek speel Potchefstroom Gimnasium se eerste span weg teen Waterkloof (die huidige Noord-Suid T20 kampioene). Gimmies se o.15A’s speel tuis teen Hoërskool Garsfontein en het ‘n baie goeie geleentheid om die eindstryd te haal.
Indien Gimmies se eerste span vir Waterkloof wen en Volkies vir Garsfontein sal daar ‘n Potch-eindstryd op die kaarte wees.




