Dit is ‘n snikhete Donderdagmiddag met die kwik wat so hoog styg soos
beurtkraggemoedere. Die Rugbyinstituut van die Noordwes-Universiteit (NWU) se spankamer, aikona, oorlogkamer is egter koel.
‘n Tafelgrootte replika van ‘n rugbyveld groet jou as jy instap, asook Burger van
der Westhuizen, die NWU Eagles se nuwe Varsitybeker-afrigter.
Hy neem stelling by die tafel in.
Agter hom op twee groot tekenborde pronk die name van die spelers wat die Eagles se Varsitybekergroep
opmaak.
Langs hul name is daar ‘n tyd. Elke vyf minute sien hy een van sy troepe
vir ‘n een-tot-een gesprek. Veldmaarskalk van der Westhuizen en sy burgermag.
“Ons het vanoggend ‘n oefensessie gehad waaroor ek baie opgewonde is,” sê hy.
Tydens die volgende sessie gaan daar op teenaanvalle gefokus word. Nee kyk, die wiele op die Fanie du Toit-sportterrein is behoorlik aan die rol.
Sy rugbyfilosofie het nie tierlantyntjies nie: “Hardloop hard en duik hard. Dis so eenvoudig as wat dit
is. By die Rugbyinstituut hou ons daarvan om die tempo hoog te hou en ons hou van die fisiese deel van die spel.”
Sy twee adjudante, Chaka Willemse (voorspelers) en Jean Tiedt (verdediging) vorm saam met Van der Westhuizen ‘n formidabele driemanskap en aan afrigtingservaring skiet die Eagles gewis nie tekort nie. Bert Moolman vul hul geledere aan as krag- en kondisioneringsafrigter.
“As afrigter wil ek drieë druk om bonuspunte in te samel en met Jean se absolute fokus op verdediging wil ons vanselfsprekend die bal so gou as moontlik terugkry.”
En, die ouens weet waarvoor hulle onder hul afrigtingskorps speel.
Van der Westhuizen wys na die enkele,
geraamde pers trui teen die muur.
“Jy sal sien dis al wat ons opgehang het. Ons gaan daai trui duur maak.”
“Duur, menend die spelers gaan moet werk vir hom.
“Duur, menend hul gaan hom móét verdien.”
“Ek is baie opgewonde, maar dit gaan ‘n beproewing wees. Ek
is aansienlik besiger, die slaap is minder, maar dit is ’n uitdaging wat ek omarm.
“Ons wil voortbou op dit wat reeds in plek is, maar uit die aard van die
saak wil jy ook jou eie idees implementeer,” sê hy.
Dan moet hy nog waaragtig vanmeet af voor ‘n vuurpeloton gaan staan.
“Ja, daai eerste vier wedstryde!” lag hy. “Ons speel UJ, Shimlas, Maties
en Tuks na mekaar.”
Dankie tog die eerste drie is tuis.
Van der Westhuizen is sedert 2012 amptelik by die Rugbyinstituut betrokke waar hy sy tande eers by die
Young Guns en later by die universiteit se eerstespan geslyp het voor die leisels as breier van die Varsitybekerspan aan hom toevertrou is nadat sy voorganger, André Pretorius, sy heil in Japan gaan soek het.
Hy is egter in ander kapasiteite veel langer by die Instituut.
Daarbenewens is die 57-jarige soveel deel van Potchefstroom soos die Mooirivier.
Dis waar hy gebore is en waar hy skoolgegaan het. Gimmies,
indien jy gewonder het en moenie dit durf vergeet nie. Sy pa het by Gimmies skoolgegee, hyself het daar
skoolgegee en al sy seuns het daar skoolgegaan.
Nou word die volgende hoofstuk van sy loopbaan geskryf. As die vorige bladsye ‘n maatstaf van sy vernuf is, gaan dié een net so lekker lees.




