Potchefstroom Gimnasium se eerste sportnaweek teen Paarl Gimnasium was ‘n belewenis wat nog vir lank in die geheue van afrigters, personeel en leerders vasgebrand sal bly.
Potch Gimmies se rugby, netbal, hokkie en tennisspanne het vir die eerste keer in geskiedenis teen Paarl Gimnasium in tweestryde te staan gekom vanaf 17-18 Maart in die Paarl.
Foto’s: Verskaf

Een van die hoogtepunte rakende Potch Gimmies se uitslae was die eerste seunshokkiespan se 1-0 oorwinning teen Paarl Gim. Marko Werkman teken die wendoel vir Gimmies aan. Hierdie span word deur Mthokozo Mbotho afgerig.
Potch Gimmies se seunshokkiedirekteur, Hennie Coetzee, noem dat die wedstryd sowel as die naweek ‘n belewenis was.
“Die atmosfeer was ongelooflik. Die ondersteuning en die naelbytoomblikke wat ons beleef het was hoogtepunte. Die skare het ook mal gegaan. Dit was ‘n ongelooflike ervaring om teen ‘n top 10 skool in SA te kan hokkie speel en hulle te kan wen. Dit was een van die hoogtepunte in my loopbaan as afrigter en organiseerder,” noem Coetzee.
Buiten hierdie oorwinning het Gimmies se o.14A seunsspan 1-1 teen Paarl Gim gespeel, terwyl die o.15A dogters met 1-0 teen Paarl Gim gewen het.
Die o.16A netbalspanne het ook 16-16 gelykop gespeel.
Al die rugbyspanne en ander netbalspanne het wel verloor en moes teen Paarl Gim die knie buig. Al het die uitslae nie na Potch Gimmies se kant toe gegaan nie, is die gevoel dat hierdie naweek meer ‘n leer-ervaring was en dat oorwinnings ‘n bonus was.
Jacques Botes, sportdirekteur by Potchefstroom Gimnasium, noem dat die skool baie by Paarl Gim geleer het oor verskeie fasette buite op en van die sportvelde af.
“Dit was ‘n wonderlike ervaring gewees. Dit was ook ‘n hengse ent om te ry van Potch na Paarl. Ek is dankbaar vir die ervaring wat die kinders kon gehad het. Ons as personeel het ook baie geleer. Die doel was om vir die kinders te kan wys ook wat moontlik is,” noem Botes.
Hy het ook Paarl Gimnasium geloof vir hulle strukture en vermoë om besoekers op die hande te dra.
“Die naweek het in baie goeie gees geskied. Ons het ‘n paar lesse geleer om ontvangs van ander skole na die volgende vlak te neem. Hopelik is dit ‘n verhouding met Paarl Gim wat kan groei in die toekoms,” stel Botes.
Uitslae:
Seunshokkie:
o.14A Gimmies 1-1 Paarl Gim
o.16A Gimmies 2-11 Paarl Gim
1ste Gimmies 1-0 Paarl Gim
Dogtershokkie:
o.14A Gimmies 1-2 Paarl Gim
o.15A Gimmies 1-0 Paarl Gim
o.16A Gimmies 0-5 Paarl Gim
1ste Gimmies 0-6 Paarl Gim
2de Gimmies 0-4 Paarl Gim
Netbal:
o.14A Gimmies 15-22 Paarl Gim
o.15A Gimmies 11-23 Paarl Gim
o.16A Gimmies 15-15 Paarl Gim
o.17A Gimmies 7-29 Paarl Gim
1ste Gimmies 16-32 Paarl Gim
Tennis:
Seuns verloor 1-5
Rugby:
o.14A Gimmies 0-60 Paarl Gim
o.15A Gimmies 0-52 Paarl Gim
o.16A Gimmies 3-97 Paarl Gim
1ste Gimmies 3-83 Paarl Gim
2de Gimmies 3-81 Paarl Gim









