Na ‘n fantastiese toernooi waar sy ‘n tweede algehele plek by die o.14 Afrika Junior Tenniskampioenskappe (CAT) in Togo vanaf 16-21 Maart behaal het, is Jahnie van Zyl nou die nommer een gekeurde o.14 dogters tennisspeler in Afrika.
Van Zyl, ‘n graad-8 leerder van Potchefstroom Gimnasium, speel al vir ‘n geruime tyd top tennis en maak haar merk teen Afrika se bestes.


Nadat sy ‘n opwarmingstoernooi gewen het, was sy gereed om in die hooftoernooi teen 32 van die beste o.14 dogters tennisspelers in Afrika, ook weer die trofee te lig.
Hierdie tennisspeler, wat ook aan die Riaan Venter Tennisakademie (RVTA) op die NWU verbonde is en deur Riaan Venter afgerig word, het in die finaal teen Nour Sahnoun (Tunisië) met 6-0, 5-7, 3-6 vasgeval.
Jahnie se vorm was deurgaans uitstekend in Togo. Sy het in haar eerste wedstryd met Yasmine Douyeb van Marokko (6-0, 6-0) afgereken. Daarna volg nog ‘n gemaklike sege teen Khadijat Mohammed van Niger (6-1, 6-0). Die volgende teenstander vir Van Zyl is Habiba Habib van Egipte en weer eens is hierdie Potchefstromer baas met 6-1, 6-4.

In die halfeindrondte word Van Zyl behoorlik getoets teen Nadine Hamrouni van Tunisië. Sy verloor die eerste stel 6-7, maar tel haar kop op en wen die volgende twee stelle 6-2 6-2 om ‘n plek in die eindstryd te bespreek.
Al was die algehele oorwinning teen Sahnoun nie beskore vir hierdie Gimmie nie, het sy beslis bewys dat sy nommer een is op hierdie gesogte ranglys.




