As dubbel SA kampioen in beide die 2023 Suid-Afrikaanse Skoleatletiekampioenskappe en die ASA Junior en Jeugkampioenskappe is die plaaslike spiesgooier, Stephané Hook, in ‘n gesogte klas.
Haar spiesgooitegniek-en vermoë het tot die aandag van die Olimpiese kampioen, Neeraj Chopra en sy Duitse spiesgooi-afrigter, Klaus Bartonietz getrek. Chopra was in Maart in Potchefstroom waar hy by die NWU McArthur stadion geoefen het.

“Hierdie meisie gaan in die volgende ses tot sewe jaar die 70 meter merk tref,” was Chopra se kommentaar nadat hy Stephané sien gooi het. Hy kon nie glo dat sy nou eers 15 jaar oud is nie.
Vir Stephané was dit ‘n onwerklike oomblik om ‘n Olimpiese kampioen te kon ontmoet en foto’s te kon neem saam met hom – wat nog van sulke goeie en opregte woorde!

Hierdie 15-jarige spiesgooi sensasie en graad-9 leerder van Potchefstroom Gimnasium het beslis ‘n blink toekoms wat vir haar wag. Verlede maand is sy as die ASA o.16 dogters spiesgooikampioen gekroon in Pietermaritzburg en in Germiston by die Suid-Afrikaanse Skoleatletiekampioenskappe vanaf 2-5 April verower sy weer goud met ‘n gooi van 46.22 meter.


Haar vorm en prestasies vanjaar is beslis iets wat min atlete op haar ouderdom kan ewenaar.
Sedert November tot Maart het sy in 15 byeenkomste deelgeneem en elkeen gewen. 13 van hierdie byeenkomste het sy haar teenstanders met meer as 10 meter gewen. Dit sluit in groot kompetisies soos die Super Interhoër en natuurlik die SA’s.
Haar persoonlike beste gooi is 47.86 meter en dit is net ‘n kwessie van tyd voor sy die 50 meter merk oorskry.



