Die Glasfit 9T20 Social and Business-liga het die afgelope Sondag, 23 April, die 22/23 seisoen op ‘n hoogtepunt afgesluit met Glasfit wat as die A-divisie kampioene op die Reinke Oval gekroon is.
Die Reinke Oval is die weermag se krieketveld (Stapelbergstadion) wat nou ‘n splinternuwe baadjie het aangesien die Reinke 9T20 krieketklub nou die instandhouding by hierdie veld oorgeneem het. Hierdie klub sal ook voortaan hulle tuiswedstryde in die komende klubkrieketseisoen hier speel.
Van volgende seisoen gaan die 9T20 liga as die Reinke 9T20 Social and Business-liga bekendstaan.
Glasfit het in Sondag se A-finaal vir Superstars met 9 paaltjies geklop met 31 balle oor. Glasfit se kolfwerk was te sterk op die dag en hulle het die teiken van 131/8 maklik verbygesteek. Robert Bosch moker 50 (28) met 6 viere en 2 massiewe sesse.
HJ Smit teken ook 47 (42) aan en neem 2/3 in 2 boulbeurte met sy linkerarm draaiballe. Erik Wyma neem ook 2/8 met sy draaiballe.
Vir die Superstars teken Albert Zitzke ook ‘n baie goeie 43 (34) aan wat 2 viere en 2 sesse insluit.
In die B-finaal klop Intelligro Kings vir Spartans met 5 paaltjies in ‘n naelbytstryd met slegs 2 balle oor. DG Fourie slaan onoorwonne 42 (27) met 3 viere en 3 sesse. Ruan Bezuidenhout se 25* (11) dra ook vir die Intelligro Kings oor die lyn in hulle jaagtog van die Spartans se 161/5.
Vir die Spartans was CP de Beer (47 van 42 balle) en Ryno Bezuidenhout (40 van 33 balle) in goeie vorm met die kolf. Die 15-jarige Bennet Keet staan nie terug tussen die ouer manne nie en neem 2/24 vir die Kings.
Spartans se boulers was goed op dreef met veral Martin Heenop se 2/7 wat uitgestaan het. Dit was wel voordat Bezuidenhout en Fourie met ‘n paar goeie houe die wen uit die Spartans se hande geneem het.
By die Wenkem Rejects en Jaguars C-finaal was dit ook veral senutergend toe die wedstryd in die laaste boulbeurt beslis is. Johann de Lange se beurt van 44* (27) dra die Jaguars oor die lyn met 5 paaltjies oor. De Lange is ook in die nek raakgeboul en het steeds met ‘n paar goeie houe sy span in die wedstryd gehou. Riaan de Jager se 51* (56) was ook baie belangrik vir die Jaguars.
Die Rejects wat 150/5 aangeteken het, kon die wedstryd gewen het, as hulle vangskote benut het en sake net na hulle kant toe gespring het.
Johnny Parsons was weer kookwater met die kolf in sy beurt van 52 (40) wat 5 viere en 2 sesse ingesluit het. Matthew McDiarmid het met ‘n vinnige 19* (10) ook gehelp om die Rejects ‘n goeie totaal te laat opstel.
Die Jaguars se Coos van Aswegen (2/14) het die meeste paaltjies vir sy span geneem. Willem Maree (0/10) was ook ongelukkig om met sy akkurate boulwerk nie ‘n paaltjie vir die Jaguars te neem nie. Wian Koen van Glasfit speel ook interessant genoeg vir die Jaguars.
Vir die Rejects was Parsons (1/10), McDiarmid (1/11), Albert Maartens (1/11) en Wouter Pienaar (0/6) die boulers wat die minste lopies oor hulle 2 boulbeurte afgestaan het.
Die Reapers het ook in ‘n wedstryd vir die Snipers met 12 lopies geklop vir die 7/8ste posisie in die liga.
Volgens die Reinke 9T20 organiseerder, Christo van Wyk, is planne alreeds aan die gang om volgende seisoen nog beter en opwindend te maak.

“Hierdie was regte ‘n baie goeie seisoen vir ons gewees. Almal het dit geniet en dit was baie meer kompeterend,” noem Van Wyk. Vanaf 1 Mei – 1 Julie kan spanne vir die 2023/24 seisoen inskryf. Die agt spanne wat tans deel is van die 9T20 liga sal wel voorkeur kry.
“Aansoeke kan telefonies bevestig word, waarna daar dan briewe uitgestuur word waarop spanne geregistreer word. Daar sal ook ‘n vergadering wees waar al die logistiek dan bespreek word vir die nuwe seisoen.
Volgens Van Wyk sal die nuwe seisoen heel moontlik in Augustus vanjaar alreeds begin.
Vir meer inligting om deel te neem aan hierdie liga of ‘n span in te skryf kan Van Wyk by 072 261 0097 gekontak word.











