
Caput het hulle onoorwonne status in die NWU se koshuisrugby liga behou.
Dit nadat hulle Saterdag, vir Excelsior op Olënpark geklop het. Caput het verlede jaar se liga gewen nadat hulle dit ook onoorwonne afgesluit het. Dit lyk of Henry Stewart se troepe ‘n herhaling van verlede jaar kan hê.
Volgens Stewart is selfgeloof, spangees en toewyding ‘n resep vir sukses.
“Dit was ‘n baie harde wedstryd en Excelsior het gewys hoekom hulle al drie groot spanne gewen het. Vir Caput was dit die uitdaging van die onbekende wat ons gemotiveer het. Teen die ander spanne weet jy so half wat om te verwag maar teen Excelsior was ons half in die duister. Ons het gehoor van hulle veggees asook hulle gevaarlike agterlyn so ons fokus was baie op sterk en effektiewe verdediging. Ons het besluit op “control the controllables” soos ons vaste fasette,ondersteunende spel en verdediging. Die span as geheel het goed gespeel en ‘n paar spelers het hand opgesteek met uitsonderlike vertonings. Daar is ‘n paar seer lywe maar, die wen laat dit baie beter voel. Ons wil ook vir Excelsior dankie sê vir die wedstryd op Olënpark aangesien die gees en ondersteuning vir beide spanne dit ‘n baie spesiale geleentheid gemaak het,” het Stewart gesê.
In die ander wedstryde wat Vrydagaand, 12 Mei, plaas gevind het, het Patria vir Veritas met 31 – 12 gewen. Dit nadat Patria ‘n skok verlies teen Exceslior gehad het.
Volgens Len Pelser, afrigter van Veritas, is hulle teleurgesteld in die manier wat hulle gespeel het.
“Ons is ‘n baie beter span as hoe ons op die dag gespeel het, en ek dink ons wen teen Overs die vorige week bewys dit. Ons het nie by ons strukture gebly nie en onnodige foute gemaak. Patria het ons gestraf vir elke fout. Op die dag was hulle die beter span. Hierdie is nie die einde van ons seisoen nie en ons het al bewys dat ons net sterker terugkom na ‘n verloor. Ons gaan hard werk en al ons klein probleme uit sorteer om sterker terug te kom en te speel om ‘n plek in die semi finale te verseker,” het Pelser gesê.
Villagers het De Wilgers 26 – 18 gewen.
Mitch Coetzee, afrigter van De Wilgers, het gesê dat hulle tevrede is met hoe die span gespeel het.
“Daar is plekke waar ons wou verbeter teenoor die vorige wedstryde, wat ons reg gekry het,” het Coetzee gesê.
Die volgende rondte wedstryde vind Vrydag, 19 Mei plaas.
Caput speel teen Patria
Excelsior vat vir Heimat aan
Overs gaan hulle eerste wen vir die seisoen teen Villagers gaan soek.



