Die voormalige Wes-Transvaal (Mielieboere) losvoorspeler, Don Berry (62), wat in 104 wedstryde die unie verteenwoordig het, is Saterdag, 27 Mei oorlede.
Don los ‘n langdurige nalentenskap in Potchefstroom as kranige rugbyspeler, maar was ook ‘n rots van ‘n pa en familieman duisend.
Don kon veral op naweke langs die rugbyveld gevind word waar hy sy seun, Doynton, op die rugbyveld ondersteun.
Doynton speel rugby vir Potchefstroom Dorp Rugbyklub en het ‘n hegte band met sy pa gehad.
“Hy was ons rots, ons hoof van die huis. Hy was altyd daar. Hy het altyd ‘n antwoord gehad vir jou vraag of iemand geken wat sou weet hoe om met enigeiets te help,” vertel Doynton oor sy pa.
Don (gebore op 16 September, 1961) het in Koster grootgeword en sy liefde vir rugby in Stellaland geleer. Hy het later vir die Puk rugby gespeel en vir die Wes-Transvaal o.20 span uitgedraf voordat hy sy senior kleure in 1983 ontvang het.

Don het saam met groot kanonne soos die Springbok skrumskakel, Robert du Preez sowel as Gert Smal en Chris Grobler in die lostrio gespeel.
Van sy teenstanders sluit in Uli Schmidt en Flippie van der Merwe onder talle ander groot name wat gereeld teen Wes-Transvaal op Olënpark moes speel.

Talle oud-Mielieboer-spelers onthou vir Don as ‘n reus van die spel wat ‘n vol lewe gelei het.
“‘n Groot gees en vriendelike mens wat ‘n voorreg was om te ken. Sterkte en genade aan die familie, ons dink aan julle,” noem oud Wes-Transvaal legend, Sakkie Raath.
“Ek het die voorreg gehad om teen Don voorry te druk. Hy het altyd gesê hy het my uit die skrum gedruk, dit was in sewes. Ons het baie oor dit gespot. Hy was n karakter,” noem Hendrik Truter, oud Transvaal heelagter.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/78617/n-honderdtal-klipharde-wedstryde-in-groen-en-rooi/
Don was ook bekend vir sy vriendelikheid en dat hy die ekstra myl sou gaan om daar vir mense te wees.
Doynton sal sy pa onthou as ‘n ware rolmodel.
“Hy was ‘n sagte reus van ‘n man wat onmenslik lief vir my ma en sy kinders was. Hy’t alles vir ons geleer wat ons weet.”
Don los sy vrou, Marie, en kinders, Doynton en Lize, agter.
Sy gedenkdiens vind op Donderdag, 1 Junie om 11:00 in die NG Kerk Miederpark plaas.





