Laerskool Mooirivier se 1ste XV het gister, 6 Junie, ‘n riller van ‘n semi-finaal teen Laerskool La Hoff van Klerksdorp gewen.
Die eindtelling was 5-0 met die enigste punte wat van Tokkies se losskakel, Frikkie Fourie, gekom het. Fourie, het ‘n gaping in die Hoffies verdediging uitgebuit om te gaan druk.
Tydens die poelrondtes het dié twee spanne gelykop gespeel. In die wedstryd wat die meeste getel het, het Tokkies net daai ekstra bietjie ‘kanniedood’ houding gehad.
Dit was ‘n fisiese stryd wat, waar Hoffies tot die einde toe baklei het, maar dit was duidelik teen die laaste kwart van die wedstryd dat die manne van Klerksdorp dood op hulle voete was. Tokkies het op die dag net te veel vrae van hulle verdediging gevra.
“Ek dink nie enige iemand het verwag dat ons eers in die uitspele sou wees nie. Die manne het hard gewerk, hulle beste gegee en nooit ophou baklei nie. Almal het hulle hande opgesteek. Nou is daar nog net een oor en dit is ‘n grote,” het Hendri Labushagne, afrigter van mMooirivier na afloop van die wedstryd gesê.
Dié grote waarna Labushagne verwys, is die eindstryd wat Dinsdag, 13 Junie weer op Olënpark gaan plaasvind. Tokkies kom teen ‘n sterk Saamtrek span te staan. Saamtrek is dusver nog onoorwonne in hulle veldtog en het hulle semi-finaal teen Laerskool Olënpark met 45- 0 gewen.
Maklik vir die Potchefstromers gaan dit beslis nie wees nie.



