
Op ʼn fantastiese kolfblad het Suid-Afrika ʼn stewige 338/6 in hulle 50 boulbeurte aangeteken om hulself ʼn goeie kan te gee om die derde wedstryd van die eendagreeks teen Australië op die J.B. Marks Oval te wen.
Dit is ook die Proteas se tweede hoogste totaal op hierdie veld in Potchefstroom. Goeie kolfwerk van Aiden Markram met ʼn onoorwonne 102 (74 balle) het die Proteas tot hierdie totaal gebring. Hy het 9 viere en 4 sesse geslaan.
Vroeer het Quinton de Kock (82 van 77 balle) en Temba Bavuma (57 van 62 balle) met ‘n 146 lopie openingsvennootskap ook goed onder die Aussies ingeklim en die skare op hul voete gehad.
Die oud-Gimmie, Marco Jansen het ook ʼn blitsige 32 (16 balle) bygedrae en het 4 viere en een ses gemoker.
Foto’s: Wouter Pienaar
Die Aussies staan ook nie terug nie en het geen genade vir Suid-Afrika se boulers gewys nie. Hulle is tans op 165/4 na 21 boulbeurte op ʼn lopietempo van 7.9, ver bo die nodige 5.9 wat hul vir ʼn sege benodig.
Die gevaarlike en ervare David Warner op 78 (54) het ʼn barshou gespeel, maar is uitgehardloop toe hy gegly het en Keshav Maharaj vinnig gereageer het om hom uit te hardloop.
Kort daarna is Marnus Labuschagne vir 15 gestonk na ‘n goëlbal van Tabraiz Shamsi misgis het.
Suid-Afrika sal moet aanhou paaltjies neem om Aussies se momentum te keer in die volgende 30 boulbeurte.