
Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het vir ‘n opskudding die afgelope Maandagaand (11 September) gesorg toe hulle die NWU se Varsitynetbal bekerdroom met ‘n 54-38 sege verpletter het.
In hierdie stryd tussen die NWU Arende en UJ se Hoephoep, was die kleiner voël die onverwagse oorwinnaar op die aand.
Voor die wedstryd begin het, was daar ook ‘n paar onverwagse tegniese skuiwe wat organiseerders op die nippertjie moes maak, aangesien UJ se baan nie aan die tegniese vereistes voldoen het nie.
Die wedstryd sou om 17:00 begin, maar is toe na Pretoria aangeskuif waar die tweede half-eindstryd tussen Tuks en Maties sou plaasvind.
Die wedstryd tussen UJ en die NWU het eers om 21:00 begin en hierdie skuiwe kon dalk moontlik albei spanne omvergegooi het.

Nietemin, was UJ die beter span op die aand en het van die staanspoor af die voortou geneem in ‘n wedstryd waar die NWU nie op hulle beste vorm was nie.
Die NWU kon net nie hul aanval aan die gang kry nie met Elmeré van der Berg en Sunel Smit wat min kanse gegun is danksy die verdediging van UJ se Cornelia Mupenda. Mupenda is ook as die Speler van die Wedstryd aangewys.