
Beste David.
Jou vrinne noem jou seker ‘Davey’. Ek wonder nog altyd of jy vriende het, want jou gedrag en uitlatings steek blykbaar almal dwars in die krop.
Wel ou mater, wie jou ook al wat ook al noem, laat ek jou ʼn storie vertel. Jy ken my nie, maar ek ken jou goed. Hou jou al vir jare dop, lees stories oor jou, luister kommentaar oor jou. David Warner, die Australiese aanvangskolwer wat met sy kanonkolf die bal harder as donderweer slaan. Arrogante David Andrew Warner wat ewe gemaklik sy spanmaats as teenstanders met sy ego so groot soos sy treftempo opkeil.
In 2018 bewys jy jouself as beide maaifoedie en boelie toe jy, as onderkaptein van Australiese toetskrieketspan gedurende die derde toets teen Suid-Afrika in Kaapstad, vir die melkbaard Cameron Bancroft opdrag gegee het om met skuurpapier aan die bal te peuter. Bancroft word uitgevang, jy en jou kaptein, Steve Smith, word elke vir ʼn jaar geskors. Mooi man. Van tóé tot wanneer skoenlappers begin blaf, walvisse begin kraai en die volle waarheid agter die Wapenskandaal uitkom, sal hierdie misdryf as Sandpapergate bekend staan.
Dít was die kersie op die koek van amper ʼn dekade wat ons met jou en jou hardekwas, selfversekerde houding en blakerende, verwaande smoel opgeskeep moes sit.
Graeme Smith, voormalige Suid-Afrikaanse-krieketkaptein en profeet wat na my mening nooit in sy eie land geër was nie, sê in die media dit is hoogtyd dat jy aan die bek geruk moet word. Ek stem.
Jou spanmaats het jou ‘The Bull’ gedoop. Ons noem jou ‘Aardsvyand’. ‘Belastinggaarder’. ‘Kokkerot’. Nou, op 12 September 2023 in my geliefde Potchefstroom was ek reg om ʼn ou koei uit ʼn sloot te gaan opgrawe. Inteendeel, ek was gereed om die vetgemaakte kalf genaamd Warner ter slagting te lei.
Julle kom speel mos hier teen ons in ʼn eendagwedstryd en ek en vroulief Daleen koop kaartjies. Ek het gehoor jy tree volgende jaar uit, so dit was my laaste kans om jou te sien en ek slyp my swaard om ‘The Bull’ by die horings te pak.

Plakkate met neerhalende slagspreuke word gemaak. En worsbroodjies. Zero Sugar Fanta Orange word gekoop. Ek het nie daarvan gedrink nie uit vrees dat dit dalk mag lei tot ʼn gesonde leefstyl.
Die Proteas kolf eerste en van meet af laat ons as toeskouers jou weet wat ons van jou dink. Wel, nie Daleen nie. Heeltemal te ordentlik, uiter nie eers ʼn lelike woord as sy deur ʼn slaggat ry nie. Die res van ons snou jou lelike dinge toe. Dinge wat jy nie vir iemand mag sê nie, soos dat jy nie jou TV-lisensie betaal nie en dat jy jel in jou hare dra.

En jy, wat gaan staan en doen jy? Op ʼn stadium doen jy veldwerk naby die grens. Jou loer slinks vir ons, hardloop nader, haal ʼn stukkie papier uit jou sak uit, gooi dit ons kant toe en lag te lekker. Spontaan juig ek jou toe.
Ditsem, dit is mos hoe ʼn man draak steek met homself! Jy hardloop terug en ek klap hande.
So, wat het jy gaan staan en doen jy? Jy gee vir my ʼn onvergeetlike herinnering. Jy gee vir my ʼn oomblik wat my altyd sal bybly, een wat ek met my vriende, familie en almal wat ek nie ken nie – soos jy wat hierdie tans lees – wil deel. Respek, man, respek.
Sondag op die TV sien ek jy deel handtekeninge uit vir ʼn klomp Suid-Afrikaners tydens wedstryd in Johannesburg. Nugter en veral geen dominee sal wil weet wat hulle vir jou vooraf geskree het nie. Julle het die wedstryd verloor, die een in Potch ook. Maar, dit is nie wat ons gaan onthou nie. Ons gaan jou interaksie met ons onthou. Dit is meer as enige lopie of paaltjie werd.
Dankie daarvoor.
Groete Davey,
Bertie