Die Potchefstroomse tennisster, Mari-Louise van Zyl, het onlangs die ongelooflike geleentheid gehad om haar land in San Diego in die VSA by die IC Rod Laver Junior Challenge Worldwide Finals vanaf 5-12 November te verteenwoordig.
Nie net kon sy teen van die top junior tennisspelers in die wêreld deelneem nie, maar sy kon ook die legendariese Rod Laver, ontmoet.

Laver is die enigste mans tennisspeler in die geskiedenis wat twee keer ‘n Grand Slam-seges in ‘n kalenderjaar behaal het.
Hy het ook 11 Grand Slam-titels in sy loopbaan behaal. Hierdie Australiër, wat vanaf 1964-1970 nommer een op die wêreldranglys was, se naam pryk ook by die Australiese Ope waar die hoofarena na hom vernoem is.
Van Zyl het by hierdie toernooi die trofee verower vir die beste sportmansgees en ‘n wonderlike tyd vir die eerste keer in Amerika ervaar.
Sy oefen tans by die Internasionale Tennis Federasie (ITF) se oefensentrum in Tunisië waar sy gebaseer is. Sy is ook deel van die Riaan Venter Tennisakademie.
Ten spyte daarvan dat sy gesukkel het om in die VSA uit te kom weens vele vertragings met haar vlugte, kon sy uiteindelik die palmbome en warm temperature van San Diego by die La Jolla Beach & Tennis Club ervaar.
Die Rod Laver Junior Challenge Worldwide Finals is ‘n gesogte kompetisie wat in 2005 ontstaan het. In 2018 het Laver besluit om sy naam aan hierdie juniortoernooi te koppel.
Dit is hier waar die room van junior tennisspelers deelneem om nie net te kompeteer nie, maar ook vriendskappe oor landsgrense en kontinente bou.
Om vir hierdie toernooi te kwalifiseer, word daar ‘n streekkompetisie aangebied wat op elk van die vyf vastelande gespeel word.
Die wenners van die streekbyeenkoms dring deur om die volgende jaar aan die finale toernooi deel te neem. Elke span bestaan uit twee dogters en twee seuns, met ‘n volwassene as kaptein. Alle juniors speel beide ‘n enkel- en dubbelspelwedstryd teen ander lande, met alle wedstryde wat tot die algehele spanuitslag tel.
“Dit is ‘n ervaring wat ons nooit sal vergeet nie.
Ons kry nie altyd die geleentheid om teen sulke top spelers te speel nie. Die toernooi was uitstekend georganiseer.
“Dit is beslis een van die beste ervarings ooit,” het Van Zyl gesê nadat sy haar toekenning vir beste sportmanskap ontvang het.
Die motivering is nou definitief hoog vir hierdie plaaslike speler wat aanhou om SA se vlag hoog te waai oral waar sy die geleentheid het om haar raket op talle internasionale bane die praatwerk te laat doen.





