Die oud-Potchefstromer en Gimmies hokkiester, Pierre Botma, ryg nou die doele ook in Ierland in waar hy in die pers en wit kleure van Portrane Hockey Club verskyn. Botma (25) het vanjaar ‘n fantastiese geleentheid gekry om in Ierland te gaan hokkie speel wat hy met albei hande aangegryp het.
Botma, wat op 5 September in Ierland geland het, het sover ongeveer 27 doele vanjaar vir sy klub aangeteken.
Hy het ook vyf doele verlede naweek aangeteken en is op goeie vorm vir Portrane. Botma het ook nog vanjaar vir Tukkies hokkie gespeel en hul na ‘n USSA-titel in sy laaste jaar as student gelei.
“Ek geniet elke oomblik hier in Ierland. Dit is ‘n goeie geleentheid by ‘n top klub. In die begin was dit moeilik om gewoond te raak aan die koue. Dit is ‘n baie groot uitdaging met werk, sowel as afrigting in die aande,” noem hy.

Botma is ook ‘n oud-NWU hokkiespeler wat sy graad in Bcom ondernemingsbestuur en entrepreneurskap in 2021 verwerf het. Hy het ook ‘n nagraadse diploma in bestuur by die NWU voltooi. Daarna is hy Tukkies toe om verder hokkie te speel en ‘n nagraadse diploma in entrepreneurskap voltooi.

Op skool was Botma ‘n uitblinker van formaat wat die doele soos koeksisters by ‘n kerkbasaar ingeryg het. Sy talent is van vroeg af raakgesien en hy het in sy graad 11 en 12 jare alreeds vir die NWU se klubspan uitgedraf. Hierdie voorspeler se oog vir doel het gehelp om Portrane na die eindstryd van die Neville Cup te lei.
Dit is die eerste keer in geskiedenis wat Portrane in die Neville Cup eindstryd sal speel.
“Ons voel dat ons ‘n goeie kans het om die finaal te wen. Dit is baie opwindend om hiervan deel te wees,” noem Botma.
Portrane speel die eindstryd van die Neville Cup teen Clontarf op Dinsdag, 26 Desember. Vir Botma is dit ‘n geleentheid om nie net ‘n beker te lig nie, maar ook ‘n bewys dat hy weer op sy beste is, veral na beserings hom erg in 2022 geknou het.
“Ek het my Anterior kruisligament in my knie afgeskeur en moes ‘n operasie gekry wat my 9-12 maande op die krukkelys gesit het. Ek het toe van my beserings herstel betyds vir USSA vanjaar en die skuif Ierland toe. Dit was ‘n groot uitdaging wat ek moet oorkom.”





