Trane vir die Arende in Potch
Volgens Burger van der Westhuizen, hoofafrigter van die NWU, was Ikeys beslis die beter span op die aand gewees.
Die NWU het Maandagaand, 15 April, hulle veldtog met ‘n halfeindstryd verloor teen Ikeys afgesluit.
Die Arende het die wedtryd 18- 32 verloor. Slegs ‘n week te vore het die Arende die Kapenaars met 30 – 18 uitgestof. Tom Dawson Squib, hoofafrigter van Ikeys, is ‘n uitgeslape ‘kopdokter’ en het die beste uit sy troepe vir die halfeindstryd gekry. Dit het nooit gelyk of Ikeys die wedstryd gaan verloor nie.
Daar was ‘n paar flaters vir die Arende op verdediging, maar hulle het goed geskarrel wanneer dit nodig was en groot duikslae uitgevoer. By nabaat sal die Potchefstromers voel hulle moes dalk pale toe geskop het, en meer klinies wees wanneer hulle in die opponente se kwartgebied gekom het.
Volgens Burger van der Westhuizen, hoofafrigter van die NWU, was Ikeys beslis die beter span op die aand gewees.
“Hulle verdediging was baie goed. Ons lynstane het gesukkel- wat dit vir ons moeilik op die aanval gemaak het. Maar ons het nooit opgehou speel nie. Ek is trots op die manne,” het van der Westhuizen gesê.
Gisteraand uitslag bring ‘n einde aan die NWU se Varsitybeker veldtog. Elke ondersteuner het gehoop dat die Arende hulle titel kan verdedig. Die Varsitybeker spelers is nou beskikbaar om vir die Luiperds gekies te word.
Volgens Matt Proudfoot, hoofafrigter va ndie Luiperds, sal hy nie jaag om dié spelers in te bring nie.
“Om ‘n speler in te bring wat nog nie reg is nie, maak nie sin nie. Daar is ‘n paar spelers wat ek dink die trappie kan klim maar ek sal vir hulle die nodige tyd gun om te rus en dansaam te begin oefen,” het Proudfoot gesê.