Oudste klubs in Noordwes die naweek slaags
Die eerstspanne skop om 15:30 op 25 Mei by Potch Dorp se velde af.

Potch Dorp en Klerksdorp Rugbyklub gaan mekaar weer komende naweek, 25 Mei aanpak.
Die twee klubs is die twee oudste klubs in die provinsie met 130 jaar se geskiedenis van wedywering. Dit is die grootste wedstryd op die Vision sport Neserliga se kalender, wat vanjaar in Potchefstroom aangebied word.
Potch Dorp het ‘n wispelturige begin va ndie seisoen beleef, maar dit lyk nou of Hnery Stewart, hoofafrigter van Potch Dorp, se planne in plek val. Die Potchefstromers het die afgelope naweek, 18 Mei naelskraap, 31 – 27 teen ‘n sterk Welkom rugbyklub verloor.
“Ons het hulle onder druk gehad in die skrums, ons lynstane was goed, verdediging was baie goed en ons ondersteunende spel was skitterend. Dit was by vêre die beste klubwedstryd wat ek nog gesien het. Dit was kliphard en albei spanne moes hard werk die hele wedstryd,” het Stewart oor die wedstryd teen Welkom gesê.
Stewart se troepe gaan nou voortbou op hulle goeie spel teen die ou vyand.
“Ons het begin van die seisoen geweet dit gaan ‘n uitdaging wees weens ‘n tekort aan spelers maar soos die seisoen aangaan het ons gegroei as span en spelers het begin terug kom. Dit is nou eers ons tweede tuiswedstryd, Ons sien uit om die manne op tuisbodem te vat,” het Stewart oor die kragmeting teen Klerksdorp gesê.
Die eerstspanne skop om 15:30 op 25 Mei by Potch Dorp se velde af.



