Gimmies verloor in T20 eindstryd
Rustenburg het Gimmies met 23 lopies geklop om die T20 Noordwes kampioenskap te verower. Caden Seleka se indrukwekkende 54 kon nie die span red nie.

Gimmies het die titel van T20 Noordwes kampioene aan Rustenburg oorhandig. Dit nadat die Rusties, Sondag op die JB Marks Oval vir Gimmies met 23 lopies geklop het. Gimmies se Caden Seleka was weer goed met beide bal en kolf. Hy het 2/25 met die bal bygedra en 54 lopies gemaak. Die meeste van enige speler in die Gimmies span. Jahndré Coetzee het 32 met die kolf bygedra en dinge het vir ‘n oomblik goed gelyk vir Gimmies om die totaal van 172 wat Rustenburg opgestel het, te behaal. Rustenburg se boulers, Tristan van der Linde, Callie Fryer en Thian Labushagne het ander planne gehad. Met syfers van 2/6, 2/23 en 2/31 onderskeidelik, het hulle Gimmies se momentum bietjie gebriek. Gimmies is uiteindelik almal uitgeboul vir 149. Gimmies kan terugkyk op ‘n goeie toernooi met goeie oorwinnings soos die oorwinning teen Wollies in die halfeindstryd wat Gimmies met 81 lopies gewen het. Die Potchefstromers sal volgende jaar beslis sterker na die kompetisie terug keer.



