Vanjaar se Luiperds laerskole eindstryde word weer soos oudergewoonte op Olënpark gespeel.
Die kaalvoet rugby kampioene gaan op 17 Junie bepaal word. Die Herald het verlede jaar se grootskole kampioene met relatiewe sukses voorspel, alhoewel vanjaar se speelveld heel anders lyk gaan ons rugby kenners weer probeer.
Rustenburg se groot skole vorm vanjaar deel van die liga wat dit vir die Klerksdorp en Potch spanne moeiliker gemaak het om tot in die eindstryd te kom. Klerksdorp het die meeste spanne in ‘n eindstryd met, ses spanne van Saamtrek en drie spanne van Lahoff. Mooirivier is die enigste span van Potch wat spanne in ‘n eindstryd het. Terwyl Laerskool Rustenburg (Larries) en Laerskool Generaal Hendrik Schoeman (GHS) elk ook drie spanne in het. Vastrap het twee spanne en Protea park slegs een span in ‘n eindstryd. Die o11A, o13C en o13A wedstryde is beslis wedstryde wat die neutrale toeskouer nie moet misloop nie.
o9B- GHS vs Vastrap
Herald Voorspelling: GHS
Die ouderdomsgroep het slegs vyf spanne gehad, met drie skole wat nie ‘n o.9B span kon bymekaar maak nie. Twee sterk spanne gaan mekaar aandurf, maar die Herald voorspel dat GHS as die wenner op die dag sal wees.
o9A-Saamtrek vs GHS
Herald Voorspelling: Saamtrek
Saamtrek se o9A span was heeltemal dominerend in die liga fase en dit het hulle voortgesit met goeie wenne in die kwart en halfeindstryd. Dit is beslis ‘n groep om in die toekoms dop te hou. Die Herald kan nie verby Saamtrek kyk om as Noordwes grootskole kampioene uit die stryd te tree nie.
o10B- Saamtrek vs Mooirivier
Herald Voorspelling: Saamtrek
Dié twee spanne het mekaar in die eindstryd verlede jaar as o9s ook aangevat. Die Herald het verlede jaar vir Mooirivier as gunsteling aangewys. Die 2024 wedstryd was gelykop. Hierdie is dalk net die Klerksdorpers se jaar om die titel uit en uit te vat.
o10A-Lahoff vs GHS
Herald Voorspelling: Lahoff
Laerskool Lahoff se o10A span het ‘n ekstra angel by gekry. Die spannetjie wat verlede jaar baie gesukkel het, het vanjaar uit hulle nate uit gespeel. Veral in die halfeindstryd om verlede jaar se kampioene, Mooirivier uit te klop. GHS gaan nie ‘n maklike opponent wees nie veral na hulle vir Proteapark uitgeklop het. Proteapark het op koers gelyk na hulle verlede jaar se finaliste, Saamtrek vroeg in die uitklop rondtes uit geskakel het. As die Hoffies nog so goeie vertoning soos hulle in die halfeindstryd gelewer het, gee dan sal hulle vanjaar se kampioene wees.
o11B- Saamtrek vs Rustenburg
Herald voorspelling: Saamtrek
Larries se o11 groep is beslis een van die sterker groep spelers in die kompetisie. Hulle is goed afgerig en speel by tye uitstekende rugby. Saamtrek se span het nie ‘n goeie liga fase beleef nie, maar dinge lyk of dit vir die Klerksdorpers begin reg kom. Hulle het hulle uitspeel wedstryde teen Vastrap en Proteapark goed gewen. Alhoewel hulle steeds die buiteperd vir dié wedstryd is, glo die Herald dat daar in sulke voorspellings altyd ten minste een buiteperd ondersteun moet word.
o11A-Saamtrek vs Rustenburg*
Herald Voorspelling: Saamtrek
Hier kom ‘n titaniese stryd met twee goed afgerigte, goed geoliede masjiene wat mekaar gaan aandurf. Rustenburg was dominerend veral in die halfeindstryd wat hulle vir Lahoff ‘n behoorlike pakslae gegee het. Daar is een of twee kraakplekke in hulle spel wat Saamtrek tot hulle voordeel kan gebruik. Maar dit is net een of twee. Saamtrek het ook hulle teenstanders vanjaar uitgestof en verdien om teen Larries in die eindstryd te wees. Larries het verlede jaar vir Saamtrek naelskraap gewen, en die Saamtrek breiers sou geleer het uit die wedstryd. Hierdie gaan beslis een van die wedstryde wees vir veral neutrale kykers om nie te mis nie.
o13D-Protepark vs Rustenburg
Herald Voorspelling: Rustenburg
Die manne van Larries het ‘n ekstra week se voorbereiding gehad omdat hulle loslooitjie in die kwartfinaal gehad het. Daai ekstra week sal hulle waarskynlik oor die wenstreep trek.
013C-Lahoff vs Mooirivier*
Herald Voorspelling: Mooirivier
Daar was twee derbies in die halfeindstryde van die groep. Tokkies het vir Baillies geklop terwyl Lahoff vir Saamtrek naelskraap geklop het. Hier gaan die wenners van hulle onderskeie derby wedstryde mekaar nou in die eindstryd aanpak. Dit is weereens een van daai wedstryde waar niemand ‘n wenner kan kies nie, weer ‘n lekker wedstryd vir neutrale kykers. Die Herald gee die voordeel vir Mooirivier. Hoekom? Want ons is Potchefstromers.
o13B-Saamtrek vs Vastrap
Herald Voorspelling: Saamtrek
Saamtrek het op tye gesukkel in hulle halfeindstryd teen Lahoff. Derby wedstryde veral in uitklop rondtes is altyd moeiliker. Tog het dié span hulle spel bymekaar gekry en die manne het goed gewen. Vastrap het ‘n sterk Mooirivier span geklop wat dalk vir die Klerksdorpers ‘n bietjie opdraende kan gee. albei was nommer een in hulle onderskeie poele so daar is min te kies tussen die twee spanne. As die Klerksdorpers by hule spel hou soos in die halfeindstryd, dan sal hulle met kort kop die gunsteling wees.
o13A- Saamtrek vs Lahoff*
Herald Voorspelling: Saamtrek
Wat wil die neutrale kyker meer sien as die twee top spanne, nogal ‘n derby en dit is ‘n eindstryd. Dié wedstryd het al die elemente van wedstryd van die dag. As albei spanne opdaag en hulle harte uitspeel gaan toeskouers met goeie rugby bederf word. Saamtek het bo aan die punteleer geëindig en hulle uitklop wedstryde gemaklik gewen. Lahoff aan die ander kant het Rustenburg, wat bo aan hulle poel geëindig, ook redelik gemaklik in die halfeindstryd gewen. Saamtrek was naelskraap die wenners toe dié twee spanne mekaar in die liga aangepak het. Op ‘n neutale veld is dit enige iemand se wedstryd. Omdat Saamtek die liga wedstryd gewen het, en dalk ‘n bietjie meer ervaring in hulle span het is hulle die gunsteling.
Hier is verlede jaar se voorspellings:
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/sport/2024/05/29/herald-voorspel-noordwes-wenners/



