Die Luiperds se Cuurie-beker eerste afdeling vedltog het het op 19 Julie tot ‘n einde gekom.
Die Noordwesters is behoorlik deur die Valke in hulle halfeindstryd in Kemptonpark geklop. Die Valke het die wedstryd met 55-12 gewen.
Volgens Riaan van Straten, waarnemende hoofafrigter van die Luiperds, is dit ‘n teleurstellende uitslag.
“Dit is maar moeilik, mens gaan altyd in ‘n semi in om te wen, so dit is teleurstellend, maar dit is net die uitslag wat vir my teleurstellend is. Die ouens het goed gelyk, die vaste fasette was goed, veral die lynstane ons het goed geduik, ons was nie swak op die dag gewees nie. Daar was maar klein foutjies wat ons gekos het. Ek is regtig trots op hoe die ouens tot in die laaste minuut geveg het,” het hy verduidelik.
Volgens hom is daar nog baie harde werk wat gedoen moet word, maar Van Straten is vol hoop met die vordering wat in so kort tydjie gemaak is.
“Mens moet maar seker na die groter prentjie kyk en besef dat jy nie kan 70s en 80s vat aan die begin van die seisoen en dan aan die einde van die jaar verwag om ‘n beker te wen nie. ek is tevrede met die vordering wat ons gewys het om dinge te stabiliseer, maar daar gaan nou baie werk in die afseisoen gedoen moet word om dinge heeltemal reg te ruk.,” het hy gesê.



