
Die Noordvaal Bowl-eindstryd tussen Volkies en Gimmies se 1ste XV’s het Saterdag vir onvergeetlike rugby in Potchefstroom gesorg. Die wedstryd het intense spel, taktiese skoppe en dramatiese wendings opgelewer voordat Volkies uiteindelik met 22–17 as wenners weggestap het.
Die wedstryd het ekstra betekenis vir Gimmies gedra, aangesien dit vir Elrich Bosch sy 50ste wedstryd vir die 1ste XV was. Maar dit was Volkies wat vinnig hul stempel afgedruk het. Hulle het ’n vroeë strafskop benut om 0–3 voor te loop, en met die wind agter hulle het Anro Nel se taktiese skopwerk Gimmies onder druk gehou.
Foute het Gimmies duur te staan gekom en Volkies het weer hulle geleenthede benut om die telling na 0–6 uit te brei. Gimmies het egter teruggeslaan nadat hulle druk in die vaste fasette opgebou het en ’n drie gaan druk om die telling 7–6 in hul guns te maak.
Gimmies se dissipline in hul eie 22 het egter gesukkel, en nog ’n strafskop het Volkies weer die voortou besorg. Halftyd is die telling 7–9 vir Volkies.
In die tweede helfte het Gimmies saam die wind gespeel en gou ’n strafskop oor geklits om die telling 10–9 te maak. Hulle het gevaarlik op die teenaanval gelyk en goeie hantering getoon, maar kon nie ’n deurslaggewende voorsprong opbou nie.
Volkies het rustig gebly en weer voordeel uit Gimmies se foute getrek. Twee strafskoppe het die telling na 10–12 en toe 10–15 vir Volkies geneem.
Met minder as tien minute oor, het Gimmies egter diep gegrawe en ná ’n kragtige dryfmaal onder die pale gedruk om 17–15 voor te spring. Die Gimmie-ondersteuners was op hul voete, oortuig dat die tuisspan dit sou uithou.
Maar Volkies het geweier om tou op te gooi. In die laaste twee minute het hulle ’n skrum-geleentheid omskep in ’n beslissende drie, wat die telling na 17-22 geneem het. Daarmee het hulle die oorwinning verseker en die beker huis toe geneem.
Die wedstryd het ’n klassieke botsing gelewer: fyn marge, harde verdediging en ’n stryd van dissipline. Uiteindelik het Volkies se konstante druk en taktiese spel die deurslag gegee, terwyl Gimmies met trots kan terugkyk na ’n dapper vertoning.



