Beide Gimmies en Volkies se o.17 sewesspanne het die afgelope naweek in Lichtenburg die halfeindrondtes van die Luiperds sewestoernooi gehaal.
Die Potchefstromers was albei onoorwonne in hulle poelwedstryde, voor hulle teen Rustenburg en Wesvalia onderskeidelik vasgeval het.
Volkies het teen Wesvalia van Klerksdorp in die halfeindrondte te staan gekom, dit was ‘n vurige wedstryd wat enige kant toe kon gaan. Die Klerksdorpers het in die laaste minute die wa deur die drif getrek om uiteindelik 19-12 te wen.

Gimmies het op hulle beurt, ‘n taai halfeindrondte teen Rustenburg met 22-0 verloor. Rustenburg het uiteindelik die toernooi gewen, nadat hulle Wesvalia in die eindstryd met 26-5 geklop het.
Volgens Regardt Kleingeld, direkteur van rugby by Gimmies, is hy oor die algemeen gelukkig met die uitslag van die toernooi.

“Ons het slegs twee oefeninge gehad om voor te berei, omdat ons juniors en seniors nog die vorige week in eindstryde betrokke was. So ek is gelukkig, ons het baie goeie goed gesien veral met die o.16s wat saam gespeel het, hulle het goed gelyk. Dit was baie goeie voorbereiding vir die NWU se toernooi wat nog kom,” het hy verduidelik.
Volgens Mighael de Beer, hoofafrigter van Volkies, wie die vorige na week die Bowl gewen het, was dit ‘n lekker toernooi wat die seuns baie geniet het.
“Ons het bietjie vas geval teen Wesvalia, maar osn sien uit na die volgende toernooi. Ons o.15 span het goed gedoen en was die bowl wenners,” het hy verduidelik.

Beide Gimmies en Volkies speel in die NWU se prestige sewes toernooi wat op 19 en 20 September plaasvind.



