Die Six Gun Grill Trans Agulhas-opblaasbootwedren is nie speletjies nie en is vir ‘n rede een van die uitdagendste sportbyeenkomste.
Hierdie wedren word as die groot kanon in die wêreld van opblaasbootren beskou. Dit is wild, onbetaam, rateltaai en onvergeeflik, maar tog ‘n uitdaging wat die Potchefstroomse tweeling, Heinrich en Marais Cloete met die grootste liefde aanpak.
Die Cloete-broers het as die Reinke/Andcore S19-span in die standaard klas ‘n baie bekwame 10de plek vanuit 23 spanne behaal. Hierdie resies strek oor vier dae met meer as 700km op die Indiese Oseaan, sowel as die Atlantiese Oseaan.
“Ons het hierdie jaar weer eens besef hoe uitdagend dit is. Ons kompeteer met deelnemers wat aan die kus bly. Hulle kan op die see oefen terwyl dit nie vir ons op ‘n gereelde basis moontlik is nie,” meen Heinrich.
Sake kon nog beter gewees het vir die tweeling as hulle ‘n beter propellerkeuse gemaak het, wat hul in die langtermyn duur te staan gekom het. Nietemin het hulle op dag een vanaf Plettenbergbaai na Mosselbaai ‘n derde plek in die uitdun vir die King of the Waves behaal.
Heinrich vertel hoe die tweede dag se roete vanaf Mosselbaai na Stilbaai ironies genoeg alles behalwe stil is.
“Verskeie deelnemers het hul ribbes gebreek tydens hierdie been van die kompetisie. Een deelnemer het ook sy knieligamente geskeur.”
Die derde dag was ‘n roete vanaf Stilbaai na Struisbaai (170km), maar weens hewige mis is hierdie deel van die wedren uitgestel. Deelnemers kon toe ‘n voorafbeplande baan aandurf as alternatief wat uit ses rondtes van 28km elk bestaan.
Die laaste been van die resies op dag vier eindig die deelnemers by Strand.
“Op die laaste dag was ons lywe maar moeg en seer,” beaam Heinrich.
Ander spanne van die Klerksdorp omgewing wat deelgeneem het sluit in S24 (Edwin en William Butler), asook S40 (Renier le Roux en Armand Smit).



