SportSport

Gimmies val vas teen Rustenburg in Skole SA20 half-eindstryd

Gimmies se kolwers het onder druk geswig in hierdie half-eindstryd teen bekende opposisie van die Noordwes.

Dit was ‘n bitter pil om te sluk vir Gimmies se eerste krieketspan, nadat hul na ‘n reeks puik seges in die poelfase, teen bekende teenstanders, Hoërskool Rustenburg met 31 lopies in die Skole SA20 half-eindstryd verloor het.

Gimmies het al drie hul poelwedstryde gewen, insluitend ‘n fantastiese 6-paaltjie oorwinning teen St. Andrews van Bloemfontein vroeër die Saterdagoggend (17 Januarie.)

Met hierdie 100% rekord en beide hul kolwers en boulers wat goeie werk gelewer het, was die kanse goed dat hulle hul opposisie van Rustenburg kon troef en weer vir St. Andrews in die eindstryd sou ontmoet.

Hul Skole SA20-droom het in ‘n kwessie van drie ure van ‘n wesenlike droom na ‘n nagmerrie verander. Gimmies moes 152 vir ‘n oorwinning behaal, maar kon net daarin slaag om vir 120 uitgeboul te word in 16.3 boulbeurte.

Gimmies se kolwers het onder druk nie die regte houe gespeel nie en sodoende hul paaltjies op ‘n skinkbord weggegee. Bron-Wayne Stuurman is op die grens vir 15 uitgevang en so ook Bennet Keet vir 4 met aflewerings wat hul op enige ander dag vir ses sou slaan.

Henré Cronjé (21) en Ruhann Steenkamp (1) is ook uitgehardloop, terwyl ander staatmakers van Gimmies, Christivan Coetzer en Jahndré Coetzee, vir nulletjies uit is.

Henré Cronjé het ‘n goeie beurt van 21 gespeel. Foto: Wouter Pienaar.

Lukas Kotze, wat ‘n baie goeie toernooi met die kolf gehad het, is been-voor-paaltjie vir 27 betrap met die telling op 50. Daarna was Rustenburg in beheer met paaltjies wat gereeld geval het.

Lukas Kotze is been voor paaltjie betrap.

Vroeër het Rustenburg 151/3 aangeteken. Gimmies se boulers kon nie gereeld paaltjies neem nie en sodoende kon RHS momentum bou. Carl Fryer se 53 (42) nie uit nie, was deurslaggewend vir die manne in groen.

Vir Gimmies is hierdie nederlaag ‘n geleentheid wat hul gemis het – RHS het vandag in die eindstryd teen St. Andrews vasgeval en sodoende gaan St. Andrews deur die nasionale ronde van hierdie toernooi.

Ironies mis beide Noordwes skole uit om verder in hierdie kompetisie te vorder.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button