Potch Volkies se krieketspelers het hul goed van hul taak gekwyt tydens verskeie binnelandse kriekettoernooie.
Volkies se eerste krieketspan het aan die Grey High Krieketfees in Gqeberha deelgeneem en puik uitslae behaal deur Northwood en Pearson te klop, voordat hulle onbeslis teen Selborne College in ’n tydkrieketwedstryd geëindig het.

In die 50-beurt-wedstryd teen Northwood moker AW van der Merwe ’n briljante 109 (134 balle), wat sy skool in staat stel om 229/7 aan te teken. Volkies se boulers boul Northwood vir 202 uit, met Zander Nel wat uitblink met 5/24.

In die 20-beurt-wedstryd teen Pearson behaal Volkies ’n naelskraapse een-paaltjie-oorwinning. Pearson behaal 99/8, met Van der Merwe wat 3/16 neem. Volkies behaal die wenlopies danksy ’n vinnige 28 (18) van Schalk Pienaar en ’n vegtersbeurt van Ben Oosthuizen, wat onoorwonne bly op 13 (16) en sy span oor die wenstreep dra.
Volkies stuur twee o.15-spanne op toer
Volkies se een o.15-span neem aan die Lance Klusener Cricket Festival in Durban deel, waar hulle twee van hul drie wedstryde wen. Volkies klop Clifton met 57 lopies, voordat hulle teen Northwood met ses paaltjies verloor. Hulle sluit die toernooi af met ’n nege-paaltjie-sege in ’n T20-wedstryd teen Kearsney College.
Staatmakers vir Volkies sluit Daniel Jacobs in met 70* (60) en Moses Kgokong met 53 (50) in die oorwinning teen Kearsney College. Jacobs (49) en Kgokong (39) speel ook goeie beurte in die nederlaag teen Northwood. Suresh Adams was ook een van Volkies se topboulers tydens die toernooi en palm altesaam ses paaltjies oor die drie wedstryde in.

Volkies se ander o.15-groep neem aan die JARU-Sport-toernooi in Rustenburg deel. Dit was ’n goeie geleentheid vir jong en opkomende spelers om hul staal te wys, en al het hulle net ’n paar wedstryde gewen, was daar duidelike groei, veral onder boulers soos Werner Voight en Johenku Viljoen.

Volkies se Tweede span slaan ver by Kovsie Smash
Volkies se tweede krieketspan neem aan die Kovsie Smash-toernooi in Bloemfontein deel en eindig in die algehele sewende plek teen top-skole se eerste spanne.
Nolan Roets, Damian Pretorius en Jacques Oosthuizen teken elk vyftigtalle aan wat Volkies na vier oorwinnings in die kompetisie neem. Pretorius, Pierre Joubert en Eizer Behrens wys ook hul vernuf met die bal.
Volkies se tweedes klop Hoërskool Pietersburg met 22 lopies, Hoërskool Driehoek met 59 lopies, Hoërskool Sentraal met sewe lopies en Bethlehem Voortrekker met ses lopies. Volkies val vas teen Hoërskool Eldoraigne met ’n nederlaag van 72 lopies en verloor ook teen Hoërskool Overvaal met ses paaltjies en Hoërskool Transvalia met 41 lopies.





