As Potchefstromers aan ‘n gerekende en gesoute karatepaar dink dan sal Johan en Madelein van Tonder se name bo aan die lys verskyn.
Dit is gepas dat Sensei Johan in sy 50ste jaar van afrigting nou met ‘n 7de dan (swart belt) spog en sy vrou, Sensei Madelein met ‘n 6de dan uitblink.
“Dit is ‘n groot oomblik vir albei van ons om hierdie vlak te bereik. Dit vat baie leerwerk, kennis en tyd. Ons is albei baie trots op hierdie prestasie.” – Johan van Tonder
Johan, van Tiska Karate Northwest, is al vir 50 jaar op dieselfde perseel op HTS Potchefstroom se gronde, waar hy sedert 16 al begin afrig het. Hy het op 10-jarige ouderdom karate begin beoefen. Hy het deur die jare talle nasionale spanne afgerig en was ook betrokke by die NWU waar hy die universiteit se karaktespan na 24 agtereenvolgende USSA-titels geneem het. Tog, geniet hy dit die meeste om sy eie groep af te rig en veral die jonger generasie ‘n passie vir karate aan te leer.

Johan het ondervind dat daar ‘n groot vraag was om kleuters af te rig en hy het ‘n program vir hulle ontwikkel wat puik resultate lewer. Alhoewel daar nie te veel druk op kleuters geplaas word nie, bevorder die sport nogsteeds selfvertroue, koördinasie en balans onder andere.
Sy vrou, Madelein het as ‘n baie skaam 14-jarige by Johan begin oefen en rig reeds 30 jaar af. Sy het ook verskeie nasionale spanne verteenwoordig as deelnemer en afrigter.
Hul kinders, Anja en Johann, het soos hul ouers ook hierdie sport beoefen. Hoe dan anders as ‘n mens tussen karatekas in die klub grootword. Albei is ook indrukwekkende 2de danne.
“Dissipline is baie belangrik. Dit is een van die basiese beginsels. Ons leer dan hoe om ‘n vuis te maak, te slaan, blok en skop,” vertel Madelein.
Die Van Tonder-klubs strek wyd in Noordwes, wat Potchefstroom, Lichtenburg, Klerksdorp, Rustenburg, Ventersdorp, Sannieshof en ook Fochville insluit.
Van die klub se staatmaker senior karatekas help ook almal met afrigting en is deel van die klubs se sukses.
“Dit is vir my lekker om te sien hoe die karatekas groei. So word almal opgebou en kan almal van mekaar leer,” noem Johan.
“Dit is baie lekker as jou studente hulle kinders bring na die klub toe. Dit is dan ‘n volle sirkel,” meen Madelein.
Die klub beplan verder om vanjaar `n groot toernooi aan te bied om Sensei Johan se 50 jaar afrigting te vier.
Belangstellendes kan Johan by 082 783 0949 skakel vir meer inligting.



