Potchefstroom Dorp Rugbyklub se eerste span het in ‘n taai wedstryd vir Parys Rugbyklub met 17-7 getroef om die Piet Visagiebeker omhoog te hou.
Hierdie wedstryd wat in Parys plaasgevind het was ‘n tipiese begin van die seisoen stryd, waar albei spanne alles insit, maar waar die afronding nog nie in plek is nie. Hanteerfoute het albei spanne deur die loop van die wedstryd gekniehalter.

Potch Dorp het wel die meeste van hul geleenthede benut en drie keer agter die pale gaan kuier. Ofentse Phiri, Delarey Swart en Frank-Lee Jackson het vir Potch Dorp se drieë gesorg.
“Dit was die eerste wedstryd van die seisoen so dit was moeilik om in ritme te kom. Die wedstryd was baie fisies en dit het goed gelyk so ons is baie hoopvol vir die seisoen wat voorlê,” het Potch Dorp voorsitter, Niekie Pullen, genoem.
Potch Dorp se tweede span het met 17-7 teen Parys vasgeval.



