SportSport

Prins se driekuns sit glans op NWU se CUT-sege

Die NWU druk nege drieë in 'n 59-42 oorwinning teen CUT-Ixias in Bloem.

‘n Driekuns van die NWU Eagles se linkervleuel, Therlow Prins, was een van die hoogtepunte in ‘n aksiebelaaide eerste ronde Varsitybeker kragmeting teen die CUT-Ixias in Bloemfontein.

Die NWU het die wedstryd met 59-42 gewen nadat hulle met halftyd 34-24 agter was. Die tempo van die wedstryd het albei spanne na hul asems laat snak met 14 drieë wat tussen die spanne gedeel is.

Die NWU het nege hiervan gedruk. NWU haker, Jordan Mcloughlin het twee drieë ingepalm, met kaptein, Stephan Krugel, Guhan du Bois, Luyolo Doyi en Hanro Venter wat ook drieë druk.

CUT het wel die hef in die hand gedurende die eerste helfte gehad en het op ‘n stadium met 31-14 voorgeloop met Jade Muller, Winton Abrahams en Raydon Swartbooi wat die tuisskare met hul drieë laat juig het.

Die NWU het wel bewys dat hul nie gaan lê nie en het net voor halftyd momentum gebou met Doyi en Krugel se drieë.

In die tweede helfte was die NWU in beheer en het hul die tuisspan van die staanspoor af probleme gegee. Hul het nie hul voet van die petrol afgehaal nie en seker gemaak dat hul die oorwinning behaal.

Voorlangs was die NWU sterk en het baie van die kontakpunte gewen. Dit het geleentheid gegee vir manne soos Prins en Doyi om hul vlugvoetigheid te bewys.

Die NWU se volgende wedstryd is tuis op die Fanie du Toit Sportgronde teen die nuwelinge, Emeris van Varsity College. Die wedstryd skop Maandag, 23 Februarie om 16:45 af.

Varsitybeker ronde een uitslae:

NWU 59 – CUT 42

UJ 61 – Emeris 41

Shimlas 50 – Maties 39

Tukkies 38 – UCT Ikeys 22

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button