SportSport

NWU Eagles laat Emeris pimpel en pers met 63-15 sege

Die NWU vlieg hoog na 'n oortuigende wen op hul tuisveld, waar Therlow Prins weer 'n driekuns van drieë behaal het.

Die NWU Eagles was gans te sterk vir die besoekende Emeris vanaand (Maandag, 23 Februarie) met ‘n gemaklike 63-15 oorwinning in hul eerste Varsitybeker tuiswedstryd op die Fanie du Toit Sportgronde in Potchefstroom.

Die NWU het die wedstryd gedomineer met die skare wat elke aanval uit volle bors aangemoedig het. Die NWU se linkervleuel, Therlow Prins, het ‘n driekuns aan drieë vir die tweede agtereenvolgende wedstryd behaal. Hy het ook die eerste en die laaste van die NWU se nege drieë aangeteken.

Sy eerste drie was sekerlik die drie van die wedstryd. Prins het ‘n skerp lyn na binne gehardloop en deur die Emeris soos ‘n Victorinox-mes gesny voordat hy sierlik oor die doellyn geduik het. Voor hierdie beweging op 14 minute was die NWU agter nadat Chijindu Okata vir die Emeris die eerste drie gedruk het.

Na die NWU punte op die telbord gesit het, was dit eenrigtingverkeer vir die NWU wat met hul voorspelers die Emeris saggemaak het. Die Emeris het ook nie hulself ‘n guns gedoen met ‘n gebrek aan dissipline nie en moes op ‘n stadium met 13 spelers speel. Sodoende het die oopkantflank, Tian van Zyl, die slot, Raniel Turner en vaskopstut, Jason Oosthuizen, ook oor die doellyn gaan kuier voor halftyd om die NWU met 35-5 teen rustyd te laat voorloop.

Die steelkantflank, Ricardo Fourie, sowel as Prins (2) en Van Zyl met sy tweede drie het die NWU se telbord verder in die tweede helfte met drieë laat blink.

Al het die Emeris twee keer gaan druk danksy Edward Sigauke en Christoff Etzebeth was dit net ‘n troosprys. Die NWU het nou nog ‘n bonuspunt oorwinning in die sak en sal nou hul oë op ‘n wegwedstryd teen UJ komende Maandag hou.

Kyk meer foto’s hier:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button