SportSport

Twee Tokkies behaal silwer by SA Atletiekkampioenskappe

Owame Moloi en Cyril Lawless van Laerskool Mooirivier het silwer medaljes op die SA Kampioenskappe behaal.

Twee van Laerskool Mooirivier se topatlete, Owame Moloi en Cyril Lawless, het silwermedaljes by die SA Laerskole-atletiekkampioenskappe in Kaapstad vanaf 20–21 Maart verower.

Moloi het ’n fantastiese tweede plek in die seuns o.12 150 meter-item in ’n tyd van 19.72 sekondes behaal. Owame het ook silwer in die seuns 4x100m aflos behaal. Lawless het puik silwer verower in die seuns o.10 70 meter hekkies in 12.29 sekondes.

Milla Oberholzer van Laerskool Baillie Park het ’n goeie vyfde plek in die dogters o.13 200 m-item behaal. Sy het ‘n tyd van 27.10 sekondes klaargemaak.

Owame Moloi en Cyril Lawless, twee silwermedaljewenners by die 2026 SA Laerskole Atletiekkampioenskappe. Foto’s: Verskaf

Moloi en Lawless is die enigste Potchefstroomse atlete wat medaljes in Noordwes-kleure by die SA Kampioenskappe behaal het.

Ander uitblinkers vir Noordwes in die Dr. Kenneth Kaunda-distrik sluit in Ryan Beets van Laerskool Saamtrek in Klerksdorp, wat ’n verstommende drie goue medaljes verower het en ook ’n SA-rekord in die seuns o.12 spiesgooi opgestel het.

Beets, onder die afrigting van die voormalige NWU-spiesgooier, Erich Wiese, het sy spies 51.79 meter ver gegooi om goud te verower.

Ryan Beets
Ryan Beets, het drie goue medaljes vir Noordwes by die SA Kampioenskappe behaal. Hierdie Klerksdorper is een om dop te hou vir die toekoms. Foto: Klerksdorp Javelin Academy/Facebook

Hy het ook goud in diskus (43.05 meter) en gewigstoot (14.44 meter) behaal.

Imke Swanepoel van Laerskool La Hoff in Klerksdorp was nog ’n uitblinker met twee goue medaljes in die dogters o.12 150 meter in 19.64 sekondes en in die 100 m in 12.74 sekondes. Sy het ook silwer in die 150 m hekkies in 20.68 sekondes behaal.

Algeheel het Noordwes se top-laerskoolatlete ’n derde plek behaal met 37 medaljes by dié kampioenskappe, waarvan 13 goud, 12 silwer en 12 brons is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button