St John’s College van Hamilton in Nieu-Seeland het geen antwoord gehad vir Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom se krieketseuns die afgelope naweek nie.
Gimmies het die Nieu-Seelanders met 302 lopies in ’n 50-beurt-wedstryd op die JB Marks Oval geklop. Volkies het ook korte mette van die Kiwis gemaak, met ’n 243-lopie-oorwinning in hul 50-beurt wedstryd by dieselfde stadion.

Gimmies se uitblinkers was Lukas Kotze met 135 en Ulrich Botha met 126 lopies. Vir Volkies was Pierre Joubert absoluut skitterend met syfers van 8/22. Daniel Jacobs (71), AW van der Merwe (64) en Hanru Combrinck (60*) het vyftigtalle vir Volkies aangeteken.

Teen Gimmies het St John’s slegs 71 lopies in 29 boulbeurte aangeteken in hul jaagtog van 373/6 wat die tuisspan opgestel het. Teen Volkies is St John’s vir 88 uitgeboul.

St John’s College, wat elke twee jaar in Suid-Afrika toer, het in krieketwedstryde teen verskeie skole in die Dr. Kenneth Kaunda-distrik deelgeneem.
Hierdie wedstryde was ’n goeie leerskool vir St John’s College en ook ’n geleentheid om verhoudings tussen die twee lande op skolesportvlak te bou.



