SportSport

‘n Toernooi vol hoogtepunte vir die NWU Eagles

Naelbyt seges, oortuigende oorwinnings en 'n hartverskeurende nederlaag in die eindstryd. Die NWU Eagles en hul ondersteuners het elke emosie tydens vanjaar se toernooi ervaar.

’n Rugbybal kan enige kant toe spring en soms wil dit net nie gunstig in jou hande land nie. Dit is die gevoel wat die NWU Eagles ervaar het in die Varsitybekereindstryd teen Tukkies die afgelope Maandag, toe hulle met 31-3 die onderspit moes delf in Pretoria.

Stephan Krugel, kaptein van die NWU, beur voort in die eindstryd. Foto: Christiaan Kotze/Asem Engage

Volgens NWU-hoofafrigter, Burger van der Westhuizen, kon sy span net nie aan die gang kom nie.

“Ek dink die reën het ’n geweldige invloed op ons spel gehad en hoe ons wou speel. Ons het op ’n stadium gevoel ons kan dit hanteer. Ons het foute met die nat bal gemaak en toe gaan druk hulle drieë. Tukkies was briljant in verdediging en hulle verdien om te wen.”

Ten spyte van ‘n tweede plek in die kompetisie was die NWU een van die beste spanne wat opwindende rugby gespeel het en die Fanie du Toit-sportgronde in ‘n arena omskep het wat teenstanders laat sidder het.

Wie kan die terugvegpoging teen Ikeys vergeet toe MJ Mostert die wendrie druk. Nog beter was die 50-10 slagting van Maties in die halfeindstryd, sowel as ‘n puik sege teen Tukkies in die groepfase.

NWU ondersteuners het elke oomblik van die toernooi op die Fanie du Toit-sportgronde geniet. Foto: Wouter Pienaar
Jamaine Dampies en Leejay Petersen vier ‘n drie. Foto: Tian du Preez/Asem Engage

Die NWU ondersteuners was van die beste in die toernooi wat deurgaans hul span luidkeels ondersteun het. Die is nie eers net studente nie, maar ook die Potchefstroomse gemeenskap wat ‘n vereenselwing met die manne in pers toon.

Hoe meer jy wen, hoe meer die ondersteuning. Vir die NWU Eagles is dit so waar soos wat die gras groen is.

NWU ondersteuners het kreatief met hul borde geraak tydens die toernooi

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button