Met slegs sekondes oor het die Potch Dorp-rugbyklub se flank, Katlego Mathe, sy span van ’n sekere nederlaag teen Impala in die Neserliga gered toe hy oorgeduik het om die telling na 38-36 te neem.
Na die uiteenlopende en dreunende ekstase om Piet Bosmanpark moes Rikus van Zyl nog sy kop hou om die doelskop oor te sit en te verseker dat Potch Dorp op Saterdag, 9 Mei, ’n gelykopuitslag teen Rustenburg Impala bewerkstellig.
Koel en kalm het hy sy skop deur die pale gejaag om die wedstryd op 38-38 te laat eindig. Albei spanne kan terugkyk na dele waar hulle die wedstryd laat glip het. Vir Impala sal dit die laaste vyf minute wees, waar hul konsentrasie gesak het.
Foto’s: Wouter Pienaar






Potch Dorp sal weet dat hulle met ’n rustydtelling van 26-14 meer klinies moes wees en die wedstryd vanuit ’n sterk posisie in die tweede helfte moes beheer het. Binne die eerste 20 minute was Potch Dorp alreeds 21-0 voor, maar moes toekyk hoe Impala aan die einde van die eerste helfte terugveg.
Die tuisspan het strafskoppe nie uitgeskop nie en het ook talle kere groot gapings in die verdediging gelaat wat Impala se vlugvoetige agterlyn benut het.
Vir Impala was die heelagter, BK Kleyn, uitstekend en het hy keer op keer soos ’n vlymskerp mes deur ’n sappige T-been beweeg. Hirriam Welman en Gerrie Blom het ook op die vleuels probleme vir Potch Dorp veroorsaak. Voorlangs was daar ‘n harde stryd tussen die agtstemanne van Dorp, Eben Verster en Impala se Marnus Venter.
Potch Dorp se manne kan wel beslis geprys word dat hulle nie hul koppe laat sak het ná die foute wat Impala byna ’n oorwinning op ’n skinkbord gegee het nie.
Die buitesenter, Zandré Jansen van Vuuren, het deur die Impala-verdediging gebars om Dorp hoop met sy drie te gee.
Van Zyl en Verster het albei hul hande opgesteek met goeie lopies wat Mathe se drie in die doodsnikke bewerkstellig het. Die tuisspan het mooi kop gehou en besit behou ten spyte van die Impies se poging om die bal om te keer.
Cobus van Aswegen, Doynton Berry, Nicholas Andrade en Van Zyl het Dorp se vier drieë in die eerste helfte gedruk.
Potch Dorp se tweede span het met 25-21 teen Impala se tweedes gewen.



