SportSport

Gimmies veg hard teen Bergsig Akademie in Rustenburg

Gimmies skuif nou hulle fokus na wegwedstryde teen Hoërskool Centurion hierdie komende naweek in die Virseker Noordvaalbeker.

Potchefstroom Gimnasium se eerste rugbyspan moes hul eerste nederlaag van vanjaar se Virseker Noordvaalbeker beleef met ‘n taai 35-31 nederlaag teen Bergsig Akademie in Rustenburg op Saterdag, 9 Mei.

Die o16A-span het ook net-net verloor teen ‘n span wat hul tuisgrondvoordeel goed benut het. Hierdie wedstryd het 13-12 in Bergsig Akademie se guns geëindig.

Die eerstespan het met durf en daad geveg, maar kon net nie die wa deur die drif trek nie. Die skrumskakel, Brandon Kellerman, heelagter, Josh Pretorius, en linkervleuel, Rea Moalosi, het uitgestaan. Kellerman het ook ‘n drie ingepalm, met Hardu Wolmarans, Nic Dreyer en Zach de Jager wat ook agter die doellyn gaan kuier het. ‘n Strafdrie is ook aan Gimmies toegeken. Zandré da Silva het drie doelskoppe oorgeklits.

Volgens Gimmies se rugbydirekteur, Regardt Kleingeld, is dit nooit maklik om weg teen Bergsig Akademie te speel nie.

“Dit is moeilik daar by Bergsig. Ons eerste- en o16A-spanne het albei verloor, maar oor die algemeen het ons spanne bo verwagting goed vertoon,” meen hy.

Gimmies stap met vyf oorwinnings, drie nederlae en een gelykopuitslag weg en skuif nou hul fokus na een van die gunstelinge in die Bowl-Wes-afdeling, Hoërskool Centurion.

“Centurion se eerste span is gunsteling om die Bowl-afdeling te wen, so ons gaan ons storie moet ken. Dit is wel altyd lekker om die underdog te wees,” verduidelik Kleingeld.

Uitslae teen Bergsig Akademie:

  • o14A: Gimmies 17 – 17 Bergsig
  • o14B: Gimmies 12 – 10 Bergsig
  • o15A: Gimmies 22 – 14 Bergsig
  • o15B: Gimmies 33 – 7 Bergsig
  • o16A: Gimmies 12 – 13 Bergsig
  • o16B: Gimmies 7 – 28 Bergsig
  • o19C: Gimmies 12 – 0 Bergsig
  • o19B: Gimmies 54 – 12 Bergsig
  • o19A: Gimmies 31 – 35 Bergsig

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button