SportSport

Volkies se draaiboulers vat voor in sege teen Gimmies

Volkies se eerste krieketspan is Classic Clash wenners na hul Gimmies met 14 lopies op die JB Marks Oval klop.

Die wegbreekdraaier, Olefa Padi (2/34), se twee paaltjies in die eerste boulbeurt, sowel as Johandré Jacobs (2/18) en Andries Venter (2/10) se draaiballe in die middel van die beurt, het die grondslag gelê vir Volkies se 14-lopie-oorwinning teen Gimmies in die eerste Krieket Classic Clash op die JB Marks Oval.

In ‘n puik 20-beurt-wedstryd tussen albei spanne wat op Dinsdag, 19 Mei plaasgevind het, het Volkies hul geleenthede benut en op belangrike tye met goeie veld-en boulwerk die oorwinning behaal. Gimmies het hul oomblikke gehad om die teiken van 134 lopies te behaal, veral toe Ulrich Botha goed op dreef was met 38 (29 balle).

Foto’s: Wouter Pienaar

Jacobs het die wedstryd gedraai toe hy vir Botha been voor paaltjie betrap het en met die volgende bal vir Henré Cronjé skoongeboul het. Venter het ook in die vorige boulbeurt van Bennet Keet 15 (16 balle) ontslae geraak en sodoende die vennootskap van 54 lopies tussen hom en Botha verbreek.

In ‘n kwessie van ses balle was Gimmies se kanse op oorwinning aansienlik gedemp. Al het Adriaan van Niekerk in die voorlaaste boulbeurt vir Zander Nel vir twee sesse gemoker, was dit net genoeg om die skare ‘n laaste bietjie opgewondenheid te gee.

Volkies se goeie veldwerk het ook vir drie uithardloopgeleenthede gesorg.

Vroeër het Gimmies vir Volkies tot 133/7 beperk danksy goeie boulwerk van die snelboulers, Jahndré Coetzee (2/19) en Ruhann Steenkamp (1/19). Van Niekerk was ook uitstekend in die laaste paar boulbeurte met syfers van 3/14 in vier boulbeurte.

Vir Volkies het die openingskolwer, AW van der Merwe, met 34 (34 balle) stabiliteit verskaf. Theunis Nel (36 van 30 balle) het ook ‘n puik beurt onder druk gespeel om Volkies na ‘n mededingende totaal te neem.

“Die atmosfeer was baie lekker. Ons is dankbaar vir ons ondersteuners wat ons moed gegee het. Ons boulwerk was ‘n hoogtepunt,” het Volkies se kaptein, Andries Venter, gesê.

Gimmies se kaptein, Christivan Coetzer, het genoem dat Volkies goed gespeel het, maar dat hul kolfwerk hulle in die steek gelaat het.

“Ons kan baie goed uit vandag se wedstryd vat waaraan ons verder kan werk soos die Noordwesliga en Noordvaal nader kom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button