Die Luiperds LSEN-rugbyspan speel uitstekende wenrugby vir die afgelope twee maande en is goed voorbereid vir die komende LSEN Cravenweek wat vanaf 25-30 Junie in Oos-Londen gaan plaasvind.
Hul roete na die Cravenweek het alreeds op 9 Mei begin toe die Luiperds na Pretoria gereis het waar hulle die Bulle op die Naka Bulle se velde aangedurf het. In ’n spannende wedstryd het die Luiperds karakter en deursettingsvermoë getoon om uiteindelik met 19-17 as oorwinnaars uit die stryd te tree.
Die span het hul goeie vorm voortgesit tydens die Noordvaal Bondedag. Hier het die Luiperds LSEN-span kragte gemeet teen die Leeus in nog ’n naelbytstryd op 8 Junie. Die Luiperds het weereens hul staal gewys en die wedstryd met 24-22 gewen.

Verskeie spelers het met hul uitstekende vertonings uitgeblink. Boeta Johnson is aangewys as die beste agterspeler van die wedstryd, terwyl Ewoudt Lidderd die toekenning as beste voorspeler ontvang het.
Nege spelers van Die Wilge Hoërskool is ook deel van hierdie groep.
Volgens Wikus Geyer, die voorsitter van Luiperds LSEN, getuig hierdie erkennings van die talent en harde werk wat binne die span is.
Die Luiperds se volgende uitdaging wag op Saterdag, 20 Junie, wanneer hulle teen die Vrystaat LSEN-span in Potchefstroom kragte meet.
Die wedstryd dien as belangrike voorbereiding vir die span se deelname aan die LSEN Cravenweek en beloof om nog ’n opwindende kragmeting tussen twee sterk spanne te wees.
Rugbyondersteuners word aangemoedig om die wedstryd te kom aanskou en die plaaslike seuns te ondersteun.
“Die Luiperds LSEN-span dra die Noordwes-provinsie se naam met trots en hul vroeë seisoensukses is ’n bewys van die toewyding van die spelers, afrigters en ondersteuners,” noem Geyer.



