Die 2026 Irene Seymore-netbaltoernooi wat vanaf 16-18 Julie by Hoër Volkskool Potchefstroom plaasgevind het, het weer bewys watter jong en opkomende netbaltalent daar in die land is. Twaalf skole van regoor Gauteng, Noordwes, Vrystaat, Mpumalanga en die Noord-Kaap het aan hierdie toernooi deelgeneem.
Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom se spanne het hul kragte teen topskole soos Helpmekaar Kollege, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Monument en Oranje Hoër Meisiesskool gemeet.
Volkies se o15- en o16-spanne eindig albei sesde, algeheel. Volkies se o15A-span verloor met 14-21 teen Nelspruit, terwyl die o16A-span met 14-15 teen Monnas in ‘n rillerstryd om vyfde en sesde plek vasval. Gimmies se o19A’s vaar die beste algeheel vir hulle skool, met ‘n sesde plek. Hul verloor ‘n taai stryd met 15-20 teen Menlopark.
Helpmekaar en Menlopark was die twee uitstaande skole in die toernooi. Helpmekaar lig die o19, o17 en o16 trofeë. Hul is ook naaswenners in die o15 en o14-afdelings.
Menlopark is die o15 kampioene nadat hulle Helpmekaar met 19-11 in die eindstryd klop. By die o14’s is Eldoraigne die algehele wenners met ‘n 15-11 oorwinning teen Helpmekaar. Die stigter van die toernooi, Irene Seymore, noem dat hierdie toernooi weer bewys watter kwaliteit netbalspelers daar op skolevlak is.

“Die kompetisie was groot en baie sterk. Die skeidsregters was ook van uitstaande gehalte. Ons het baie komplimente gekry van al die skole oor die organisasie en alles wat betyds was, asook die atmosfeer van die toernooi,” sê Seymore.
“Dankie vir al die Volkie-ouers en -personeel wat hard gewerk het. Ek is trots om deel van Volkies te wees.”
Uitslae (1ste en 2de plekke):
o19: Helpmekaar 22 – Monument 18
o17: Helpmekaar 12 – Menlopark 12
o16: Helpmekaar 13 – Menlopark 9
o15: Menlopark 19 – Helpmekaar 11
o14: Eldoraigne 15 – Helpmekaar 11



