‘n Mens kon die spanning met ‘n mes sny op die NWU Astrobaan gistermiddag (Saterdag, 8 Augustus) tydens die o19A Noordvaal Dogtershokkie half-eindstryd tussen Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Noordheuwel.
Die telling is 1-1 na gewone tyd en nou is dit strafdoele om te bepaal wie na die eindstryd teen Transvalia beweeg. Gimmies se kaptein, Cara Hulley, teken haar strafdoel aan wat saam met verligting en opgewondenheid gaan. Die Gimmie ondersteuners weet dat die onus nou op Gimmies se doelwagter, Oratile Windvoël, rus.
“Komaan Ora!”, “Nou Oratjie!” skree hul vanuit die pawiljoen vir Gimmies se doelwagter wat die kans het om Noordheuwel te keer – ‘n span wat die afgelope ruk ‘n doring in Gimmies se vlees is. Die son wat agter die Astro sak was verder tekenend dat die lig ook op een skool se goue droom sou sak.
Die fluitjie blaas. Die skare hou hul asems op. Sommige spelers kan skaars kyk. Doodse stilte.
Oratile keer die bal en net daar begin ‘n ontploffing van vreugde. Spelers omhels mekaar. Trane vloei aan beide kante. ‘n Oorwinning nader aan die trofee vir Gimmies wat nou deur na vanmiddag (Sondag, 9 Augustus) se eindstryd teen Transvalia is.
Oor die algemeen was dit ‘n klipharde stryd tussen twee spanne met groot respek vir mekaar. Gimmies se Ninke de Bruin het vir Gimmies hul doel aangeteken.
Die eindstryd vir posisies 1-2 vind om 12:45 op die NWU Astro plaas tussen Gimmies en Transvalia.



