Gimmies was weer absoluut verwoestend op die krieketveld met oortuigende oorwinnings teen Ikageng Hub hierdie afgelope Saterdag, 5 September.
Die eerste- en o15A-krieketspanne het albei gemaklike 10-paaltjie-seges behaal.
Die eerstespan boul Ikageng Hub vir 85 almal uit in 22 boulbeurte voordat hulle die teiken in 12 boulbeurte behaal. Thloni Thabatha kry kans om saam met Ulrich Botha die kolfwerk te open. Albei kolwers teken onoorwonne tellings in die 30’s aan.
Gimmies se o15A’s boul Ikageng Hub vir slegs 43 in 11 beurte uit. Juvan Botes neem 5/8, met Rikus le Roux wat ook 3/5 inpalm.
Christoff Raubenheimer slaan ’n vinnige 33 om Gimmies oor die wenstreep te neem.
Gimmies se o15B’s het ook met Lichtenburg klaargespeel met hul 260-lopie-oorwinning.
Gimmies maak 326/6, met Willem Steyn wat 112 aanteken. Steyn skitter ook met die bal en neem 4/24 om Lichtenburg vir 66 almal uit te boul.



