Potchefstroom Volkskool se tweede krieketspan het die diepte van die skool se kriekettalent die afgelope naweek ten toon gestel toe hulle die Noordkaap Kalahari-kriekettoernooi teen ander skole se eerste en tweede spanne geklop het.
Sentraal se o19B-span, Gimmies se tweeede span (Dukes) en Grey College se derde span was die ander spanne wat nie eerste spanne na die toernooi gestuur het nie.
Volkies het ’n spanningsvolle eindstryd teen Hoërskool Kalahari van Kuruman in ’n Superbeurt gewen nadat albei spanne hul beurte op 128 lopies afgesluit het.
Volkies het 128/1 in 20 beurte aangeteken, met Daniel Jacobs wat ’n onoorwonne 55 van 60 balle geslaan het. Moses Kgokong het ook ’n goeie bydrae gelewer met 45* van 55 balle. Jacobs was boonop die voorste lopiemaker in die toernooi met 144 lopies agter sy naam.
Die Kalahari Eagles het 128/6 aangeteken. Volkies se Janu de Beer het 2/34 met die bal geneem, terwyl Zian Shepherd met 22 lopies Kalahari se beste kolwer was.
Kalahari het agt lopies in hul Superbeurt aangeteken, met Pierre Joubert wat goed geboul het.
Damian Pretorius het die wedstryd vir Volkies beklink deur twee viere en twee enkellopies aan te teken om die oorwinning vir sy span te verseker. Die span word deur die Crowther-broers, Cobus en David, afgerig.

Volkies se tweede span was onoorwonne in die toernooi. Hulle het ook Hoërskool Sentraal se tweede span met 67 lopies geklop. Jacobs het sy tweede vyftigtal van die toernooi met ’n stewige 52 van 49 balle aangeteken, terwyl Pretorius ook ’n handige 50 van 30 balle bygedra het om Volkies na 159/7 te neem.
Evan van der Merwe het met die bal uitgeblink en 5/13 geneem om Sentraal vir 92 almal uit te boul.
Teen Centurion het Volkies ’n oorwinning van twee lopies behaal danksy puik boulwerk en veldwerk. Volkies moes 93 lopies verdedig en het daarin geslaag om Centurion se kolwers te stuit. Joubert het hier met 3/13 uitgeblink.
Volkies het ook Grey College se derde span met twee lopies geklop in ’n wedstryd waarin die boulers weer die deurslag gegee het nadat Volkies vir slegs 67 uitgeboul is.
Grey College het egter nie rekening gehou met Volkies se gevaarlike boul-aanval nie. Die draaiers Suresh Adams (3/4) en Mofenyi Olaniran (3/20) het gehelp om die oorwinning vir Volkies te verseker.



