Sport

Luiperds maak stem dik teen Grens

Volgens Matt Proudfoot, hoofafrigter van die Luiperds, het hulle 'n baie beter begin tot die wedstryd gehad. 

Die Luiperds het Saterdag, 13 April, die SA beker apie van hul rug af gekry met ‘n goeie oorwinning teen Grens.

Die Noordwesters het 57 -15 op tuisbodem met die Oos- Kapenaars klaar gespeel. Die slot Bakkies Dlwengu het drie drieë vir die Luiperds gaan druk.

Volgens Matt Proudfoot, hoofafrigter van die Luiperds, het hulle ‘n baie beter begin tot die wedstryd gehad.

“Ons was bietie swakker in die tweede helfte, ‘n paar keer balbesit by die afbreekpunte en in die vaste fasette verloor wat ons gekos het. Dit kom maar neer op die konsentrasie van die spelers. Ons sal dit die week uitlig en hard daaraan werk,” het Proudfoot gesê.

Die kritieke vraag is of die Luiperds nou hierdie wen kan opvolg met nog ‘n tuisveld sege oor die Oostelike Provinsie wat Saterdag, 20 April, Potchefstroom toe reis vir die volgende SA beker wedstryd.

Volgens Proudfoot is dit van kritieke belang dat die Noordwesters ‘n goeie vertoning teen die OP gee.

“Ons het geweet die eerste maand van die kompetisie gaan moeilik wees, en OP is ook ‘n baie goeie span. Hulle vaste faset is uitstekend en hulle het goed teen die Cheetahs gespeel. Dit gaan ‘n groot toets wees vir ons. Veral ons voorspelers, ek gaan hulle uitdaag om te verbeter op hulle vertoning,” het Proudfoot gesê.

Die wedstryd tussen die Luiperds en die OP skop Saterdag, 20 April om 15:00 op Olënpark af. Toegang is gratis.

 

 

 

 

Related Articles

 
Back to top button