Na ’n uitstekende Classic Clash tussen Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom hierdie afgelope naweek, het Gimmies steeds die hef in die hand wanneer dit by die 2026 Virseker Noordvaalbeker kom.
Volkies se eerstespan het verdien om die Classic Clash-beker te wen en met spogregte weg te stap, maar Gimmies sal aanvoer dat hulle oor die algemeen sterker uit die naweek gekom het as ’n mens na die algehele uitslae kyk.

Gimmies het ses van die nege kragmetings gewen. Volkies het twee wedstryde gewen (eerstespan en o.14B), terwyl die o.16A-spanne met 13-13 gelykop geëindig het.
In die Bowl-afdeling Wes is Gimmies heel boaan die punteleer in hul strewe om promosie te verkry. Gimmies is tans op 105.5 punte ná vier wedstryde, met Midstream College tweede op 100 punte. Hoërskool Centurion is derde met 69.5 punte.
Volkies is tans laaste van die ses skole op 56 punte, maar het net drie wedstryde gespeel. Volkies speel hierdie komende naweek (30 Mei) tuis teen Centurion in ’n naweek waar al hul spanne oorwinnings sal moet behaal om op die punteleer op te skuif.
Saterdag se wen kan katalisator vir Volkies se seisoen wees
Volgens Volkies se eerstespan-hoofafrigter, Mighael de Beer, was Saterdag se wen teen Gimmies ’n bewys van die hart wat sy span het.
“Hulle het saam gespeel soos ’n span wat lief is vir mekaar en omgee. Ek dink die feit dat die ouens vir 70-minute aangehou speel het, was goed. Hulle het geduik soos net ’n Volkie kan,” het De Beer sy span se verdediging en veggees geloof.

Gimmies sien verloor as ’n leerskool
JR Jackson, Gimmies se hoofafrigter, stem ook saam dat sy span alles gegee het, al het hulle vir 15 minute met 14 spelers gespeel en ook twee keer moes terugveg om dit weer ’n eenpuntwedstryd te maak.
“Dit was eers teen die einde van daardie 15 minute, toe die manne begin moeg raak het, dat Volkies oorgedruk het vir hul eerste drie. Om daarna nog voor halftyd terug te kom en die telling weer gelyk te maak, was definitief een van die hoogtepunte wat ons uit die wedstryd kan vat,” het Jackson gesê.
Jackson wys verder daarop hoe sy span bly veg het, al het dit gelyk asof Volkies met 20-7 die oorhand gehad het.

“Baie mense het gedink hier kom nou ’n groot pak slae. Dat ons weer van daar af teruggeveg het en die wedstryd twee keer weer ’n eenpuntwedstryd gemaak het, wys baie karakter. Ek dink dit sê baie van die span en die feit dat ons sonder ’n vaskopstut steeds goed gevaar het.”
Volgens Jackson sal sy span in die komende week — Gimmies het ’n loslootjie hierdie naweek — aan hul lynstane moet werk, aangesien hulle baie van hul eie bal verloor het.
“Hopelik kan ons onsself weer opwerk in die Virsekerbeker sodat ons die kwarteindstryd kan haal, en daarna mik vir die semifinaal en dalk selfs die finaal. Die seisoen is nog lank nie verby nie en ons is dankbaar vir vandag se wedstryd. Daar was baie plekke waar ons mooi kon leer.”

2026 Virseker Noordvaalbeker: Bowl-afdeling Wes
- Potchefstroom Gimnasium
Wedstryde gespeel: 4
Punte: 105.5 - Midstream College
Wedstryde gespeel: 4
Punte: 100 - Hoërskool Centurion
Wedstryde gespeel: 3
Punte: 69.5 - Hoërskool Jeugland
Wedstryde gespeel: 3
Punte: 69 - Bergsig Akademie
Wedstryde gespeel: 3
Punte: 60 - Hoër Volkskool Potchefstroom
Wedstryde gespeel: 3
Punte: 56



