Meyerton se Angeline as liefdadigheidsprinses van realiteitsreeks gekroon
Angeline Swanepoel, ’n inwoner van Midvaal, is onlangs as die tweede liefdadigheidsprinses van die SterStatus-realiteitsreeks op VIA (DStv kanaal 147) gekroon.
MEYERTON. -Die ma van een wat bedags as eise-spesialis by Medscheme werk, het tussen Maart en Oktober vanjaar aan die reeks deelgeneem en gedurende haar deelname aan die reeks ook fondsinsamelings gereël.
Talle inwoners sal die Winter Blessing Colour Run & Foam Pit onthou wat Angeline op 27 April by die Midvaal-renbaan aangebied het ten bate van die Fabulous Girl-liefdadigheidstigting en Showers of Blessing.
Sy het in Augustus ook haarself in die skoene van karwagte geplaas om die kollig te plaas op die uitdagings wat karwagte daagliks ervaar.
Angeline vertel: “Ek het SterStatus as ’n reis aangepak omdat ek hou van uitdagings en opwinding. Groei vind alleenlik plaas as mens uitdagings aanpak en jou self uitdaag.”
Die realiteitsreeks en kompetisie wat op VIA (DStv kanaal 147) uitgesaai word bied ’n platform om jong vroue te bemagtig, hul drome uit te leef en ’n verskil te maak en is daarop gemik om deelnemers se vaardighede uit te brei wat hulle in hul eie gemeenskappe kan gebruik.
Die meisies het tydens die verfilming van die reeks verskeie werkswinkels bygewoon wat onder meer televisie aanbieding, rolspel en sosiale media bestuur ingesluit het.
Wat Angeline se prestasie merkwaardig maak is dat sy saam met honderd meisies van regoor die land aan die kompetisie deelgeneem het.
Angeline vertel: “Daar was baie uitdagings en dit was ’n tawwe journey gewees,”vertel Angeline. Angeline geniet nou so bietjie af tyd saam met haar kerel Michael en dogtertjie Tiané maar gaan binnekort weer betrokke wees by die SterStatus reeks waar sy gaan help met beplanning, motivering en om met raad te help vir die volgende seisoen se meisies.
Angeline wil voortgaan om haar passie om ander mense te help uit te leef en beplan reeds aan liefdadigheidsprojekte wat sy wil aanpak.
