Na 700 treffers kom sing Rudi in sy ou tuisdorp!
Op 2 April tree hy by die Barnyard in Vereeniging op. Dit begin die aand om 19:00 en kaartjies kos R120 per persoon. Vir meer besonderhede, kontak Suzette by sue@rudiclaase.com of 082 416 8204.
VEREENIGING. – Die voormalige Vaaldriehoekse sanger en internasionaal bekende liedjieskrywer Rudi Claase, is van sy wysie af! Wel, darem net figuurlik gesproke. Dit is nou as jy die storie agter die storie, of kom ons sê agter sy liedjies, ken.
As jy Rudi Claase nog nie self ontmoet het nie, het jy sekerlik al van sy liedjies gehoor, want 700 Afrikaanse en Engelse treffers het al uit sy pen gevloei. Sy liedjies word deur van die land se grootste kunstenaars gesing. Sy laaste album, wat heel gepas “Liedjieskrywer” heet, was ‘n kommersiële sukses en met hierdie album het Rudi nie net sy veelsydigheid as liedjieskrywer en musikant bewys nie, maar ook ‘n kant van hom vir die publiek ontbloot wat min al gesien het – en dit is getoonset in die hartroerend-eerlike lirieke van die snitte op die album.
Rudi toer nou die land plat met sy nuwe vertoning, ‘Van my wysie af’.
“Ek vier hierdie jaar my 21ste jaar in die musiekbedryf en in hierdie werk vier ek die goed, die sleg, die vreemd en die ontnugtering,” vertel hy. Verder is hy heel ernstig wanneer hy sê, “soms raak almal van hulle wysies af”.
Dié konsert gaan veel verder as net ‘n sanger wat op ‘n verhoog klim en van die liedjies sing wat hy vir ander groot name in die bedryf geskryf het. Hy maak geen geheim daarvan dat hy self met bipolêre gemoedsversteuring sukkel nie en was al verskeie kere in die nuus hieroor. “Depressie is niks om oor skaam te wees nie. Reik uit, praat met iemand. Om in stilte te ly is nie die antwoord nie.”
Rudi hoop om met die konsert mense se harte aan te raak en om siele te verkwik met werke wat direk uit die hemele vir hom gegee is. “Ek dink ook dat die ‘waarheid’ agter soveel stories oor my (in die media), ‘n plekkie in die son moet kry. Ek hoop om ‘n nuwe wysie van hoop in elke hart te plaas,” sê hy opgewonde.
Min liedjieskrywers kan spog dat hul werk internasionale platforms bereik het. Vele van Rudi se liedjies word in Nederland en Duits vertaal. “Die grootste sukses hiervan is die Nederlandse sangsensasie, Belinda Kinnaer, wat my lied, ‘Sewe Oseane’ in Nederland vrygestel het. Dit was ‘n direkte vertaling en het gou nommer een behaal,” vertel die sanger trots. Hy het ook saam met Belinda in Nederland getoer.
Met liedjies soos Tussen woorde, Sewe Oseane, Engele, Pêrels, As ek sing, en nog vele meer, hoop Rudi om met sy vertoning “Van my wysie af”, mense op ‘n reis deur sy persoonlike lewe te neem. Hy gaan staaltjies deel van hoe die liedjies geskryf is en waar dit vandaan kom. “Die liedjies wat werklik saakmaak, word deur God vir my geleen,” vertel die bekroonde skrywer.
Die eerste “Van my wysie af” toervertoning het pas in Uitenhage begin en beloof om ‘n landwye musikale reis te wees waar Rudi nie net ‘n deel van sy persoonlike lewe en hart aan sy aanhangers wys nie, maar hulle toelaat tot in die diepste kamers van sy siel.
Op 2 April tree hy by die Barnyard in Vereeniging op. Dit begin die aand om 19:00 en kaartjies kos R120 per persoon.
Vir meer besonderhede, kontak Suzette by sue@rudiclaase.com of 082 416 8204.




