Spesiaal vir Vanderbijl se militêre veterane
Het jy verpligte diensplig gedoen? Weet jy dat daar voordele is wat jou kan help? Die Suid-Afrikaanse Weermag Vereniging is daar vir jou.
VANDERBIJLPARK – Die Suid-Afrikaanse Weermag Vereniging (SAWV) sien om na die belange van militêre veterane. Dis nou almal wat hier van 1966 tot die begin 1990’s opgeroep was vir verpligte diensplig.

In Vanderbijlpark is die Byekorf Eenheid van die SAWV in Oktober 2025 gestig. Die SAWV is nie ‘n staatsinstelling nie, maar werk wel nou saam met die Departement van Militêre Veterane (DMV).
Alhoewel dit alles baie formeel klink, is die SAWV ook ‘n nasionale organisasie waar ou vriende mekaar weer kan raakloop, stories uitgeruil kan word en die ou kameraderie van die weermagdae onthou kan word.
Soos die Byekorf Eenheid se sersant-majoor Cobus Cato sê, hoe ouer mens word, hoe meer onthou jy net die lekker dinge van jou diensplig tyd.
Die eerste projek wat die nuwe eenheid aangepak het, is Projek Mahem. Die projek fokus op die bemarking en werwing van nuwe lede. Nuwe lede word ook gehelp om op die DMV se databasis te registreer.
Geregistreerde veterane kan aansoek doen vir voordele soos behuising, ‘n pensioen en mediese fonds. Die mediese fonds is slegs vir die veteraan en nie sy gesin nie.
Die eenheid voorsitter Julio Agrella sê veterane moet onthou dat dit ‘n hele proses is van registrasie totdat voordele bekom kan word en daar is nie ‘n tyd aan verbonde nie.
Veterane kan by die SAWV aansluit teen R200 per jaar. Jy hoef nie in die weermag gedien het om by die SAWV aan te sluit nie. Veterane se familie en vriende kan as ondersteuners aansluit en by die gemeenskapsprojekte betrokke raak.
Die Byekorf Eenheid het vele groot projekte in die pyplyn waaroor daar later berig sal word. ‘n Belangrike een tans is Kolgans.
Met ‘n Kolgans kom lede en hul families bymekaar vir ontbyt waar daar gewoonlik lekker geëet en gekuier word. Aktiewe lede kan ook ‘n lapelwapen koop teen R50, wat hul enige plek kan dra om te wys dat hul SAWV lede is.
Vir meer besonderhede kontak gerus die eenheid kommunikasie en bemarking, Wim Neethling by 082 458 5147 of die eenheid adjudant, Jaco van den Berg by 083 756 4785.
