Die Laaste Avondmaal – ‘n Unieke ervaring
Komende naweek word Paasfees deur Christene gevier. Herfsoord nooi almal om saam met hulle die gebeure van daardie naweek te ervaar hierdie week. Lees meer.
VANDERBIJLPARK – Hierdie week bied Herfsoord ʼn geleentheid vir Christene om die Paasfeesverhaal op ʼn ander manier te ervaar.
Wanneer besoekers die saal betree, is hul dadelik in ou Jerusalem. Die geluide, geure en goedere van ʼn straatmark begroet jou.
Herfsoord personeel, in dissipelpakkies, heet jou welkom, voordat jy die groot saal betree.

Oral is kerse, tafeltjies met ongesuurde brood, glasies met druiwesap en eetgoed wat herinner aan die Bybelse tyd, van dadels tot die oord se tuisgebakte broodjies.
Besoekers kan rustig sit, nagmaal op hul eie gebruik en van die lekkernye eet, terwyl ʼn oudio-opname gespeel word.
Die opname is deur predikante in die omgewing gedoen en vertel die verhaal van waar Jesus vir sy dissipels aangesê het om ʼn kamer vir die Pasga-maaltyd voor te berei, tot waar die haan kraai na Petrus se verloëning.
Daarna kan besoekers deurbeweeg na die voorstelling van die tuin van Getsemane, alvorens die kruis-stasie betree word. Ook hier word ʼn oudio-opname gespeel en is daar stoele waar besoekers ʼn tyd kan verwyl. Die hele ervaring duur ongeveer 30 minute.

Oordbestuurder Charlene Aucamp vertel sy het net nadat hul Kruisstasies-uitbeelding verlede jaar klaargemaak het, die idee gekry om die Laaste Avondmaal uit te beeld. Die span het goed saamgewerk en alles binne drie dae gebou.

Die Laaste Avondmaal kan tot 2 April besoek word, wanneer die laaste groep besoekers om 11:00 ingelaat sal word. Kostes is gratis, maar donasies van R20 of meer sal waardeer word.
