‘n Magtige dreuning, gebedstaal wat bikers verstaan
Jericho Ride 2026. Die organiseerders noem dit nie verniet, A ride like no other nie.
VANDERBIJLPARK – Die motorfietse het vroegdag by The Restless Clubhouse in Sasolburg vergader vir die Jericho Ride 2026. Teen 10:30 het die gedreun van die masjiene opgeklink toe almal na die Centurions Clubhouse in Vanderbijlpark vertrek het.

Uiteindelik het hulle in ‘n lang ry deur die hekke gery. Netjies binne geparkeer en die enjins hard gerev. ‘n Teken van respek vir dit wat gevolg het.
‘n Erediens waar daar vir hul mede-bikers op die pad gebid is. Die diens is deur Pastoor JP Ferreira gelei.
Voor die diens is daar kerse aangesteek ter nagedagtenis aan DJ Ben se ma wat oorlede is en aan Wynand Pheiffer wat verlede jaar in ‘n motorfietsongeluk oorlede is. Die diens is deur Wynand se vrou, Vicky, bygewoon wat saam met hom in die ongeluk was.

Die bikers het weer hul omgee vir mekaar gewys en ook hul deursettingsvermoë. Magda Geisberger en Kobus Jordaan het geval terwyl hulle op pad was. Hulle het egter opgestaan, hulself afgestof en was steeds betyds om die diens by te woon.

Die oggend se meesterbrein was die van Eugene Cronje, terwyl The Restless Vaal, The Restless Sasolburg en Centurions MC Clubhouse deel was van die organisering.
