Pastoor se lang pad met kanker
Pastoor se sterk geloof dra hom deur drie kanker diagnoses sedert 1996. Hy glo die Here het hom genees.
VEREENIGING – Pastoor Leonard Viviers (71) van die Volle Evangelie Kerk Drie Riviere is in 1996 vir die eerste keer met kanker gediagnoseer. Hy het kolonkanker gehad, maar is genees.
“Ek is ‘n kind van die Here en ek glo dat Hy dokters gebruik, maar my genesing is ‘n wonderwerk,” vertel hy.
Sy tweede stryd teen kanker was in 2022 toe hy met ‘n seldsame nierkanker gediagnoseer is. Sy regternier is verwyder, maar die kanker het versprei na sy aorta toe.
“Die kanker kon uit die hart verwyder word, maar die onkoloog het gesê ek het net ses maande om te leef,” onthou hy. Hy het egter op die Here se Woord bly staan en is weer eens genees.
“Die dokter het gesê daar is geen genesing nie en ek het vir haar gesê, ek praat as kind van God.”
Desember het hy begin sleg voel. Sy vrou Ansie sê hy was die heeltyd moeg, het baie hoofpyn gekry en was traag om te reageer. “In Januarie het hy eendag op die bed gesit en net agteroor geval. Hy het geen beheer daaroor gehad nie.”
‘n MRI-skandering het die oorsaak van die moeilikheid opgespoor. Leonard het ‘n gewas so groot soos ‘n tennisbal op sy brein gehad. Vyf dae later het hy ‘n breinoperasie ondergaan wat hom lam aan sy linkerkant gelaat het.
Na ses weke in die hospitaal moes hy van vooraf leer loop, eet en aantrek. “Ek sou dit nie sonder my vrou en almal wat vir my bid kon doen nie.
“Mense van so ver as Australië, Rustenburg en Klerksdorp bid vir my. Toe ek in die hospitaal was het pastore wat ek nie eens ken nie my besoek en vir my gebid,” sê Leonard dankbaar.
Hy het nog 11 dae oor van 30 dae se bestraling en chemoterapie om die laaste 10% van die gewas te verwyder. Hy glo hy is gesond, want “ek dien ‘n wonderwerkende God.”
Leonard erken dat die breinkankerpad ‘n moeilike een was, maar staan steeds sterk in sy geloof. Vir ander wat ook deur moeilike tye gaan sê hy: “Moenie moed verloor nie. Hou net aan. Moenie tou opgooi nie.
